Nuus 13:00
BULLETIN 27 Mei 13 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste groep Ghanese burgers word gerepatrieer
# Die DA vra Tshwane om eerder op dienslewering te fokus as op die hernoeming van die Wonderboom-lughawe
# En sokker: Broos gaan vanaand Bafana Bafana se span vir die Wêreldbekertoernooi aankondig
# Ghanese owerhede repatrieer vandag die eerste groep van sy burgers wat versoek het om Suid-Afrika te verlaat. Meer as 800 Ghanese het vir vrywillige ontruiming geregistreer en 300 vertrek vandag vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Dit volg op ‘n vlaag betogings teen onwettige immigrasie. Die hoof van Binnelandse Sake, Immigrasie en Wetstoepassing, Stephen van Neel, het aan die SABC gesê hulle het probleme ondervind tydens die bevestigings-proses:
# Forum for South Africa sê as president Cyril Ramaphosa werklik onskuldig is, moet hy nie regstappe doen om ‘n proses uit te daag wat gemik is op verantwoordbaarheid nie. Hy het die Wes-Kaapse Hooggeregshof gister gevra om die onafhanklike paneelverslag oor die Phala Phala-skandaal te hersien. Die Konstitusionele Hof het bevind die Parlement was irrasioneel om dit te verwerp. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, wonder of Ramaphosa iets probeer wegsteek:
# Die DA in Tshwane ondersteun nie die voorgestelde hernoeming van die Wonderboom-lughawe nie en voer aan die stad moet dienslewering, veiligheid, infrastruktuur en ekonomiese groei voorop stel. Woordvoerder Kuhle Maseko sê die lughawe is ‘n belangrike ekonomiese bate met die vooruitsig om werk te skep en beleggings te lok. Hy stel ‘n deursigtige openbare-privaat vennootskapsmodel voor om bestuur te verbeter, munisipale finansiële druk te verminder en langtermyn volhoubaarheid te ondersteun. Maseko glo dit sal sakebedrywighede uitbrei en lugvaartontwikkeling bevorder.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê die prokureur-generaal het die Appèlhof versoek om die saak te hersien van drie tieners wat tronkstraf vrygespring het ná die verkragting van twee meisies. Die meisies is in November 2024 en Januarie 2025 in afsonderlike voorvalle in Fordingbridge, Hampshire, verkrag. Die tienerseuns wat verlede week skuldig bevind is, het nie tronkstraf gekry nie, en is slegs tot jeugrehabilitasie gevonnis. Starmer het die vonnis as skokkend beskryf:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, maak vanaand in Pretoria sy finale span bekend vir die Wêreldbekertoernooi, met president Cyril Ramaphosa wat ook teenwoordig sal wees. Broos gaan sy voorlopige groep van 32 spelers tot 26 verminder vir die toernooi in Kanada, Amerika en Mexiko. Bafana Bafana is in Groep A saam met Mexiko, die Tsjeggiese Republiek en Suid-Korea. Broos beklemtoon spelers se huidige vorm, fiksheid en aanpassing by sy wedstrydplan sal deurslaggewend wees in sy finale keuse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-724-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-489-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….