Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Professor Dire Tladi word beëdig as Suid-Afrika se eerste regter by die Internasionale Geregshof
# Die onderburgemeester van Tshwane gee die reistoelaag terug wat die Stad aan haar betaal het
# En, krieket: ‘n Tweede honderdtal vir Kane Williamson terwyl die Black Caps die Proteas oorheers
# Professor Dire Tladi word vandag as Suid-Afrika se eerste permanente regter by die Internasionale Geregshof in Den Haag beëdig. Die voormalige professor in internasionale reg aan die Universiteit van Pretoria is deur die Algemene Vergadering en Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies verkies. Tladi se termyn as ‘n lid van die hof, is vir nege jaar. Sy eerste sitting as regter sal op die 19de van vandeesmaand wees, met die versoek vir ‘n adviesmening oor die situasie in Palestina.
# ActionSA in Gauteng sê die onderburgemeester van die Stad Tshwane, Nasiphi Moya, het Vrydag vrywillig die reistoelaag, van tien-duisend-rand, met rente, wat die stad in haar rekening betaal het vir ‘n reis wat gekanselleer is, teruggegee. Moya het aangebied om rente op hierdie bedrag te betaal, maar die stad kon dit nie aanvaar nie, toe het sy die rente aan liefdadigheid geskenk. Die provinsiale voorsitter van ActionSA, Funzi Ngobeni, sê ‘n skenking van ses-duisend-rand is aan King’s Hope, ‘n vroueskuiling in Olievenhoutbosch, gegee:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het verskeie gevangenes van die Brandvlei-gevangenis buite Worcester in die Wes-Kaap na nabygeleë tronke verplaas, toe ‘n veldbrand gister in die rigting van die gebou beweeg het. Minister Ronald Lamola het bevestig die brand is onder beheer, geen beserings is aangemeld nie en al die gevangenes is teenwoordig. Brandbestrydingspanne is aktief besig om die brandlyn in Matroosberg en nog ‘n brand in Baviaanshoek te bestuur.
# Krieket: Nieu-Seeland is na dag drie in algehele beheer van die eerste toets teen Suid-Afrika in Mount Manganui. Die Black Caps het 511 in die eerste beurt behaal voor hulle die Proteas vir 162 uitgehaal het, met Keegan Petersen se telling op 45. Teen uitskeityd op dag drie was die tuisspan op 179 vir vier in hulle tweede beurt, na die tweede honderdtal in die wedstryd vir Kane Williamson. Die tuisspan het ‘n reusagtige voorsprong van 528 lopies. Peterson sê hulle hou aan om te veg:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-937-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-88-sent per vat.
# Ten slotte: Die varsvoedsel- en koffie-kettingwinkel, Pret A Manger, kom na Suid-Afrika nadat ʼn mylpaalooreenkoms met die privaat aandeelmaatskappy, Millat Group, onderteken is. Pret A Manger is in 1986 in Londen gestig en bedryf tans meer as 700 winkels wêreldwyd. Millat Group se uitvoerende hoof, Hamza Farooqui, sê die eerste Pret A Manger-winkel sal hierdie kwartaal in Johannesburg open voor hulle in die komende maande na Kaapstad, Durban en Pretoria uitbrei. Hy sê hierdie vennootskap is in ooreenstemming met sy strategie om wêreldbekende handelsmerke na Suid-Afrika te bring.
Bly igeskakel vir meer nuus……………….