Nuus 13:00
BULLETIN 24 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie se Aanbevelings-taakspan arresteer ‘n kaptein van die polisie se Forensiese Wetenskaplaboratorium
# Ses mense sterf en elf is beseer in vier verskillende botsings in Limpopo
# En tennis: ‘n Moeilike begin vir Novak Djokovic op Roland Garros in sy soeke na ‘n 25ste Grand Slam
# Die Madlanga-kommissie se Aanbevelings-taakspan het ‘n kaptein verbonde aan die polisie se Forensiese Wetenskaplaboratorium in hegtenis geneem op aanklagte van regsverydeling. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die verdagte is Vrydag by sy woning in Pretoria gearresteer. Sy sê die inhegtenisneming hou verband met bewerings van regsverydeling in verskeie hoëprofiel-moordsake wat tans ondersoek word, asook bewyse voor die Madlanga-kommissie:
# Die Forum for South Africa sê korrupsie binne die polisie dra by tot die hoë misdaadsyfer in die land. Waarnemende nasionale polisiekommissaris Puleng Simpane het aangekondig die Staatsveiligheidsagentskap voer tans lewenstyloudits op luitenant-generaals uit, met planne om die proses na majoor-generaals uit te brei. FOSA se leier, Tebogo Mshilompane, sê om te verwys na lewenstyloudits wat die Staatsveiligheidsagentskap uitvoer, beteken niks as dit nie lei tot onmiddellike skorsing, strafregtelike vervolging en tronkstraf nie:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê infrastruktuurbelegging bly sentraal tot ekonomiese groei, werkskepping en verbeterde openbare dienste. Godongwana sê die regering gaan voort om aansienlike hulpbronne te bestee om te reageer op waterlekkasies en stelselfoute, eerder as om die oorsaak van die krisis, verouderende en vervalle waterinfrastruktuur, aan te spreek. Die minister sê die huidige waterbefondsingslandskap is steeds verdeel oor verskeie toelaes en befondsings-instrumente, wat samewerking bemoeilik, doeltreffendheid ondermyn en die langtermynvolhoubaarheid van infrastruktuurbelegging verswak.
# Die Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid in Limpopo het bevestig ses mense is dood, insluitend twee voetgangers, en elf beseer in vier verskillende botsings gisteraand. Woordvoerder Mashudu Mabata sê die departement bepleit steeds dat motoriste padveiligheidsreëls nakom, omdat roekelose gedrag op die paaie tot sterftes en lewensveranderende beserings kan lei:
# Sokker: Die Gautengse regering het die Orlando Pirates hartlik geluk gewens met hul geskiedkundige oorwinning in die Betway Premierskap-kampioenskap vir 2025/2026. Regeringswoordvoerder, Elijah Mhlanga, sê hierdie prestasie is ‘n bewys van die klub se harde werk, dissipline, veerkragtigheid en toewyding aan uitnemendheid dwarsdeur die seisoen. Hy sê die oorwinning is opwindend en maak miljoene ondersteuners regoor Gauteng en in Suid-Afrika trots. Hy sê sokker verenig steeds gemeenskappe in die hele land.
# En tennis: Novak Djokovic begin vandag met sy jongste poging om geskiedenis te maak. ‘n Vierde oorwinning in die Franse Ope sal aan die 39-jarige sy 25ste Grand Slam-titel besorg, waarna hy solank reeds streef. Djokovic se laaste Grand Slam-oorwinning was in die Amerikaanse Ope in 2023, met Jannik Sinner en Carlos Alcaraz wat sedertdien elke Grand Slam gewen het. Djokovic speel vanaand ‘n moeilike wedstryd teen Giovanni Mpetshi Perricard van Frankryk. Die voormalige wêreld-nommer-29 beskik oor een van die kragtigste afslae op die toernooi en kan luidrugtige ondersteuning deur die tuisskare op Roland Garros verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….