Nuus 13:00
BULLETIN 20 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verhoog staalinvoertariewe
# 36,4-miljard-rand is toegestaan vir die voortsetting van die Maatskaplike-verligtingsfonds
# En sokker: Die DRK se span sal uitgesluit word van ‘n verbod om Amerika binne te gaan weens die Ebola-uitbreking
# Suid-Afrika het die invoertariewe op ‘n wye reeks staalprodukte met tussen tien- en 30-persent verhoog om die plaaslike bedryf te beskerm. Die maatreëls, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, is van toepassing op lande sonder handelsooreenkomste met Suid-Afrika. Die Internasionale Handelsadministrasiekommissie sê dit het ten doel om plaaslike vervaardiging en nywerheidsgroei te ondersteun, maar owerhede erken dit kan pryse verhoog. Kortings sal beskikbaar wees vir produkte wat nie plaaslik vervaardig word nie. Die regering sal die volgende drie jaar voortgaan om die doeltreffendheid van die beskermingsmaatreëls te hersien.
# PUTCO gaan vanaf 1 Junie ‘n gemiddelde brandstofverwante tariefverhoging van tien-persent instel weens hoë dieselpryse van sowat 32-rand per liter. Die busmaatskappy se woordvoerder, Lindokuhle Xulu, sê stygende geopolitieke spanning het wêreldwye brandstofkoste opgejaag en plaas druk op bedrywighede. Interne ramings het aangedui ‘n verhoging van 35-persent was nodig, maar PUTCO kies ‘n laer aanpassing om pendelaars te beskerm. Xulu sê hulle gaan voort met gesprekke met die regering oor langtermyn-brandstofverligting:
# Die waarnemende minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sindisiwe Chikunga, sê 293-miljard-rand is toegestaan as deel van die program vir maatskaplike bystand vir maandelikse regstreekse betalings vir kinders, pensioentrekkers en mense met gestremdhede. Sy het die departement se begroting van 302-miljard rand vir die huidige boekjaar by die Parlement ingedien. Chikunga sê 36,4-miljard rand is ook toegestaan vir die voortsetting van die Maatskaplike Verligtingsfonds wat tot Maart volgende jaar verleng is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, sê betrekkinge tussen Moskou en Beijing het ‘n ongekende hoë vlak bereik, met handelsomset wat die afgelope 25-jaar meer as 30-maal toegeneem het. Hy het vandag in Beijing vergader met sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping, waar hulle meer as 20 handels- en tegnologie-ooreenkomste onderteken het, sowel as ‘n verklaring oor ‘n meerledige wêreldorde. China is die grootste aankoper van Russiese olie. Xi het Beijing se verbintenis bevestig om langtermyn, gesonde en bestendige ontwikkeling van sy bande met Moskou onwrikbaar te bevorder.
# Sokker: Amerika en FIFA werk daaraan om seker te maak die Demokratiese Republiek die Kongo se span mag Amerika binnegaan vir die Wêreldbekertoernooi. Die land het weens die Ebola-uitbreking ‘n verbod ingestel op alle buitelandse burgers wat die DRK, Uganda of Suid-Soedan die voorafgaande 21 dae besoek het. Die DRK het reeds ʼn beplande oefenkamp in die hoofstad, Kinshasa, afgestel. Amerikaanse amptenare sê die span sal voor die toernooi in Europa oefen, wat beteken hulle word uitgesluit van die verbod.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-30 teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-458-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-477-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….