Nuus 13:00
BULLETIN 19 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Trump-administrasie stel voor om vlugtelingtoelatings vir wit Afrikaners te verhoog
# Die Wes-Kaapse Landboudepartement sê die gure weer gaan die landbou-ekonomie beïnvloed
# En krieket: Nuweland is reeds uitverkoop vir die Nuwejaarstoets teen Engeland
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie beplan volgens berigte om die vlugtelingtoelatingsperk vir wit Afrikaners van Suid-Afrika tot 17-duisend-500 te verhoog vir die 2026-boekjaar. Trump het herhaaldelik gesê meer Afrikaners kan vlugtelingstatus verkry omdat ‘n volksmoord na bewering in Suid-Afrika plaasvind. Hy het ook beweer wit boere word wreedaardig vermoor en hul grond word gevat. Die regering ontken die bewerings. Amerika het ongeveer vier-duisend-500 Suid-Afrikaners as vlugtelinge toegelaat in die eerste ses maande van die boekjaar.
# Die Wes-Kaapse Departement van Landbou sê hy evalueer tans die beduidende uitwerking van die gure weersomstandighede wat die provinsie verlede week geteister het. ‘n Reeks hewige kouefronte het gelei tot wydverspreide oorstromings, infrastruktuurskade en ontwrigting van boerderygemeenskappe wat die lewens van elf mense geëis het. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê die gevolge sal na verwagting die provinsie se landbou-ekonomie raak, veral vrugte- en wyn-uitvoer-voorsieningskettings:
# Die African People’s Convention steun die omsigtigheid waarmee die bekende Suid-Afrikaanse epidemioloog, Salim Abdool Karim, die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda beskou. Karim waarsku dat Suid-Afrika waaksaam en gereed moet wees om op die uitbreking te reageer. Minstens 100 sterftes in die DRK word aan Ebola toegeskryf. APC se woordvoerder, Lucas Mphaka, sê die land moet voorbereidingsmaatreëls teen die virus verskerp:
# Die liggame is gevind van vier Italiaanse duikers wat verlede week vermis geraak het tydens ‘n skubaduik-ongeluk in die Maldives. Amptenare het bevestig ʼn span hoogs opgeleide Finse en plaaslike duikers het hulle gevind in ʼn grot van 60-meter diep in die Vaavu-atol. Die liggaam van die vyfde duiker in die groep is reeds Donderdag kort na die voorval uitgehaal. Dis moontlik die ergste enkele duikongeluk in die klein nasie wat ʼn gewilde toeristebestemming in die Indiese Oseaan is.
# Krieket: Alle kaartjies is volgens berigte reeds uitverkoop vir die Nuwejaarstoets tussen die Proteas en Engeland op Nuweland in Kaapstad. Die uiters gewilde sportgebeurtenis keer terug nadat dit vanjaar oorgeslaan is. Kaartjieverkope het gister geopen en Krieket Suid-Afrika het kort daarna bevestig alle kaartjies is opgeraap. Die wedstryd sal die derde en laaste een wees van Engeland se eerste toetsreeks in Suid-Afrika sedert 2019. Die eerste toets begin op 17 Desember in Johannesburg en die tweede die 26ste in Centurion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-34 teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-880-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-541-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….