Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Gauteng se Gesondheidsdepartement ignoreer aanbevelings oor onreëlmatige aanstellings
# Die SA Windenergievereniging sê die 2023 konsep-kragplan moet behoorlik hersien word
# En, krieket: ‘n Opdraande stryd vir die Proteas in Nieu-Seeland
# Die DA in Gauteng sê die Staatsdienskommissie het die afgelope drie jaar 13 onreëlmatige personeelaanstellings in die provinsiale Gesondheidsdepartement ondersoek, maar in nege van die gevalle het die departement nie die kommissie se aanbevelings ingestel nie. Dit is volgens die LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, se skriftelike antwoord op die party se vrae in die wetgewer. Die DA-lid, Jack Bloom, sê die kommissie het afgekom op onreëlmatighede in die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, Tshwane:
# Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging sê die land se voortslepende energiekrisis vereis vinnige optrede aan die hand van ‘n duidelike, omvattende en realistiese toepassingsplan. Die vereniging het gereageer met die vrystelling vir openbare kommentaar van die land se hersiene konsep Geïntegreerde Hulpbronplan 2023. Die plan bied ‘n ontleding van breë beskikbare opsies vir die land om aan drie afsonderlike doelwitte te voldoen, naamlik voorsieningsekerheid, energiebekostigbaarheid, en die verkleining van die koolstofvoetspoor deur minder koolstofvrystellings. Die vereniging sê die konsep-I-R-P 2023 verg intensiewe hersiening, deursigtigheid en kreatiewe oplossings.
# Die Stad Kaapstad sê statistieke tussen Oktober verlede jaar en Januarie vanjaar dui op een van die besigste tydperke die afgelope vier jaar vir die Stad se Brand- en Reddingsdienste. In dié tydperk het hulle op 13-duisend-87 voorvalle gereageer, waarvan 55-persent veldbrande was. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê jaar-tot-jaar was daar ‘n toename van 12-persent in gesamentlike voorvalle, insluitend brande, reddings en ander spesiale optredes soos motorongelukke:
# Krieket: Dit was nog ‘n moeilike dag van toetskrieket vir die Proteas in Nieu-Seeland. Rachin Ravindra het ‘n ongelooflike 240 lopies aangeteken vir sy eerste dubbele toetshonderdtal en die Black Caps is teen die einde van dag twee uiteindelik almal uitgeboul vir 511. Die Suid-Afrikaanse kaptein, Neil Brand, het ses paaltjies ingepalm met sy draaiballe. In antwoord het die Proteas teen uitskeityd op 80 vir vier gestaan, met David Bedingham onoorwonne op 29 en die Proteas nog 431 lopies agter met nog ses paaltjies staande. Volgens Brand was dit ‘n opdraande stryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-988-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-8-sent per vat.
# Ten slotte: Taylor Swift het by die 66ste Grammy-toekennings die toekenning vir beste album gewen vir Midnights. Sy is die eerste kunstenaar ooit wat die toekenning vier keer kon opraap. Sy het ook weggestap met die toekenning vir beste vokale pop-album. S-Z-A, wat in nege kategorieë benoem is, het twee toekennings ontvang. Een is vir die beste R-and-B-lied vir Snooza. Miley Cyrus spog met haar eerste twee Grammys vir beste pop-solovertoning en langspeler van die jaar vir Flowers. Billie Eilish het die toekenning vir die beste liedjie van die jaar ontvang vir haar Barbie-temalied, What Was I Made For.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….