Nuus 13:00
BULLETIN 9 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU vra die Openbare Beskermer en die president van die Reserwebank om te bedank ná die Phala Phala-uitspraak
# Eskom handhaaf sy netwerkprestasie met koeler temperature wat hoër aandverbruik dryf
# En tennis: Swiatek sukkel deur na die derde ronde van die Italiaanse Ope
# SAFTU vra die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, en die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, om te bedank ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor president Cyril Ramaphosa se Phala-Phala-saak. Die Reserwebank het bevind daar was geen verpligting om die gesteelde buitelandse valuta aan te meld nie, terwyl die Openbare Beskermer se verslag in Junie 2023 Ramaphosa van enige oortreding onthef het. Asive Dyani van SAFTU sê Gcaleka en Kganyago se geloofwaardigheid is nou onherstelbaar geskaad:
Intussen verwelkom die United Africans Transformation die uitspraak wat bevestig die Parlement het onregmatig opgetree deur die ampsklag-proses te staak. Woordvoerder, Mighty Mabule, sê die proses moet voortgaan om openbare vertroue in staatsinstellings te herstel en die integriteit van Suid-Afrika se konstitusionele demokrasie te handhaaf. Hy sê die Parlement kan nie politieke elite teen aanspreeklikheid beskerm nie:
# Eskom sê ondanks die hoër aanvraag, gedryf deur ongunstige weerstoestande en ‘n skerp styging in aandverbruik namate temperature daal, bly die stelsel bestendig. Soms word byna twee-duisend megawatt meer as die verwagte vlakke bereik tydens hoëverbruikstye. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit gebeur namate sonkragopwekking natuurlik afneem teen sononder, wat verbeterde operasionele veerkragtigheid en ‘n meer doeltreffende benutting van kapasiteit oor die stelsel toon:
# Die Amerikaanse Departement van Verdediging het Vrydag nadat president Donald Trump ‘n opdrag gegee het, talle voorheen geklassifiseerde lêers oor beweerde waarnemings van vreemde vlieënde voorwerpe vrygestel om wat hy noem, “ongekende deursigtigheid” aan die Amerikaanse volk te verskaf. Ontleders sê egter baie van die dokumente is reeds beskikbaar gestel. Die vrygestelde dokumente, foto’s en video’s van onverklaarde abnormale verskynsels sal gevolg word deur toekomstige vrystellings, namate meer inhoud gedeklassifiseer word. Die vrystelling sal waarskynlik ‘n nuwe debat aanwakker oor regeringsgeheimhouding en die moontlike bestaan van lewe in die kosmos.
# Tennis: Iga Swiatek het tot die derde ronde van die Italiaanse Ope deurgedring met ‘n 6‑1, 6‑7, 6‑3 oorwinning oor die Amerikaner Caty McNally. Dit het gelyk of die Poolse speler op koers was vir ‘n gemaklike oorwinning toe sy met 4‑2 voorgeloop het in die tweede stel, maar McNally het twee keer op Swiatek se afslaan deurgebreek en die valbylpot gewen. Swiatek het in die beslissende stel met 3‑1 voorgeloop, maar McNally het egter teruggeveg tot 3-elk. Swiatek het egter die laaste drie potte gewen om haar plek in die volgende ronde te verseker. Sy het sedert haar vierde Franse Ope‑titel in 2024 nog nie weer ‘n kleibaan‑toernooi gewen nie.
# En ten slotte: BirdLife International sê veranderende reise van voëls in die wêreld toon werklike druk op die natuurlike stelsels waarvan die wêreld afhanklik is. Vandag is Wêreld Trekvoëldag met die tema, “Elke Voël Tel – Jou Waarnemings Maak Saak”. BirdLife International se uitvoerende hoof, Martin Harper, sê trekvoëls dra voedingstowwe oor oseane, bestuif plante, versprei sade en help om gewasse te laat groei en siektes in toom te hou. Hy sê tans daal meer as 40-persent van voëlspesie-getalle wêreldwyd:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….