Nuus 13:00
BULLETIN 7 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SABC verbind hom tot billike verkiesingsdekking in al 12 tale
# Amerika monitor sy reisigers op ‘n passasierskip na ‘n hantavirus-uitbreking
# En motorsport: Minister McKenzie sê alles sal gereed wees voor ‘n Grand Prix-bod ingedien word
# Die SABC se groepsbestuurder vir Nuus en Aktuele Sake, Deidré Uren, sê hulle bly daartoe verbind om burgers in te lig en op te voed voor die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November. Sy sê daar is ‘n mandaat om billike en regverdige dekking in al 12 ampstale te verskaf. Uren sê die SABC sal ondanks finansiële uitdagings betroubare inligting verseker om kiesers te help om ingeligte besluite te neem:
# Die DA vra die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, om ondersoek in te stel na die Suid-Afrikaanse Leërstigting. Twee senior amptenare, Errol Ramphele en Maria Barros, is ná ‘n ondersoek deur die Finansiële Sektor Gedragsowerheid belet en met meer as 44-miljoen-rand beboet omdat hulle ongemagtigde betalings aan hulself gemaak het. Chris Hattingh van die DA sê hulle sal voortgaan om die saak in die Parlement te opper:
Nuus uit die buiteland:
# Die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming sê Amerika monitor die situasie noukeurig met Amerikaanse reisigers aan boord van die luukse passasierskip wat deur ‘n hantavirus-uitbreking getref is. Drie mense – ‘n Nederlandse egpaar en ‘n Duitse burger – is dood in die uitbreking op die MV Hondius. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê agt mense, insluitend ‘n Switserse burger, het moontlik die virus opgedoen. Die skip vaar tans na die Spaanse Kanariese Eilande en het toestemming van die Spaanse regering gekry om onder streng regulasies vas te meer.
# Die Verenigde Arabiese Emirate sê Iran se missiel- en hommeltuigaanvalle op sy buurlande en die teiken van handelskepe in die Seestraat van Hormoes is onwettig en roekeloos. Sy lugverdedigingstelsels het Maandag 12 Iranse ballistiese missiele, drie kruisermissiele en vier hommeltuie onderskep. ‘n Brand het in die Fujairah-oliebedryfsone uitgebreek en drie burgerlikes beseer. Die VAE se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mohamed Abushahab, sê die aanvalle bedreig internasionale vrede en veiligheid:
# Motorsport: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Suid-Afrika sal seker maak alles is gereed voor ‘n bod ingedien word om ‘n Formule Een‑Grand Prix aan te bied. ‘n Kenner sal daarom aangestel word om die bod te evalueer. McKenzie het bevestig privaat sektor-vennootskappe het die vereiste gasheerfooi van 1,7-miljard-rand verseker. Hy sê die bod sluit die sakemodel, gasheer- en byeenkoms-bestuur, infrastruktuur, logistiek en regeringsgoedkeuring in. Suid-Afrika het in 1993 laas ‘n F1‑wedren aangebied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-18 teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-78-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-734-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….