Nuus 13:00
BULLETIN 21 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fadiel Adams maak regstellings aan sy getuienis voor die Madlanga-kommissie
# Burgemeester Hill-Lewis sê Kaapstad is Suid-Afrika se stad van hoop
# Sokker: Banyana Banyana se teenstanders vir die Wêreldbeker-uitspeelrondes is bevestig
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het aspekte van sy getuienis voor die Madlanga-kommissie reggestel. Hy het erken hy het Getuie G ontmoet voor hy in die Orlando-polisiestasie in Gauteng ‘n saak gemaak het oor die beweerde misbruik van die polisie se geheime fonds. Adams het ook sy siening oor luitenant-generaal Peter Jacobs en polisiedossiere verduidelik en gesê hy het staatgemaak op getuienis van luitenant-generaal Hilda Senthumule:
# Graan SA sê byna 700-miljoen-rand kan oor die sojaboon-waardeketting verlore gaan weens die Johannesburgse Aandelebeurs se benadering tot die berekening van liggingsverskille. Die organisasie skat ‘n enkelverwysings-puntestelsel kan gemiddelde vervoeraftrekkings van 333-rand per ton tot gevolg hê, vergeleke met 113-rand onder sy voorgestelde multi-verwysingsmodel. Graan SA sê die verskil kan uiteindelik boere se verdienste verlaag en koste vir verwerkers en verbruikers verhoog. Die organisasie daag die JSE se besluit deur regs- en ander prosesse uit.
# Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kaapstad het die afgelope vyf jaar ‘n baken van hoop geword met rekord infrastruktuur-beleggings wat gelei het tot 50-persent van die werkgroei in alle metro’s. Hy het sy laaste toespraak van die termyn voor die raad gelewer. Hill-Lewis het die kollig laat val op besteding van 12,3-miljard-rand aan infrastruktuur, vordering met openbare veiligheid, insluitend die ontplooiing van meer as een-duisend-300 bykomende munisipale polisiebeamptes, en beleggings in veiligheidstegnologie:
Nuuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Finansies het sanksies ingestel teen tien mense wat na bewering deel is van ‘n netwerk verantwoordelik vir die oordrag van kontant aan Hisbollah. Dis na bewering gedoen deur koeriers wat op handelsvlugte tussen Libanon, Turkye en die Verenigde Arabiese Emirate gereis het. Die Kantoor van Buitelandse Batebeheer sê die netwerk het die Irans-gesteunde Libanese militantegroep toegelaat om buitelandse valuta te bekom en sanksies buite die formele bankstelsel te ontduik. Die departement het Hisbollah ook her-etiketteer as ‘n handlanger van Iran.
# Sokker: Banyana Banyana sal teen Taiwan, Ecuador en Oesbekistan te staan kom in die voorlopige fase van die tussenkontinentale uitspeelwedstryde vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi vir vroue in Brasilië. Suid-Afrika het hul plek in die uitspeelwedstryde verower na hul veldtog in die Afrikabekertoernooi, waar hulle Nigerië geklop het om hul Wêreldbekerdroom lewend te hou. Die uitspeelwedstryde sal in November en Desember gespeel word. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê dis nie ‘n maklike loting nie, maar hulle kan slaag as hulle goed begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-897-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-583-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….