Nuus 13:00
BULLETIN 4 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê die proses van registrasie is ‘n deurlopende oefening
# Helen Zille moedig Suid-Afrikaners aan om die ‘krag van een’ te erken
# En, rugby: Oorwinnings vir Skotland en Engeland in Sesnasies-reeks
# Die Verkiesingskomissie se adjunk-uitvoerende hoof, Masego Sheburi, sê die kiesersregistrasieproses vir die komende verkiesing is ‘n deurlopende proses vir die land. Die kantore van Binnelandse Sake is vandag oop vir diegene wat hulp nodig het met identiteitsdokumente. Hulle fasiliteer die uitreiking en afhaal van die nodige dokumente vir registrasiedoeleindes. Sheburi het die departement geloof vir sy uitstekende ondersteuning. Hy beklemtoon die registrasieproses eindig nie die naweek nie:
En in verwante verkiesingsnuus het die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, alle Suid-Afrikaners aangemoedig om die ‘krag van een’ te erken. Sy beklemtoon ook die komende verkiesing is ‘n waterskeidingsoomblik vir die land. Zille sê hoewel miljoene mense beloof het hulle gaan vir die party stem, is die werklikheid dat die uitslag van een enkele stem kan afhang. Zille het alle Suid-Afrikaners wat die land liefhet aangemoedig om die ‘krag van een’ positief te omhels:
In Senegal het president Macky Sall gister aangekondig die presidensiële verkiesings van later die maand, is uitgestel. Hy gee omstredenheid oor die diskwalifikasie van sommige kandidate en bewerings van korrupsie in verkiesingsverwante sake as redes aan. Sall het die wetgewing herroep wat die verkiesingsliggaam sou byeenroep, net toe veldtogte vir die verkiesings op die 25ste van die maand sou begin. Senegal is een van Wes-Afrika se mees stabiele demokrasieë. Die besluit volg na die samestelling van ‘n parlementêre ondersoekkomitee oor die integriteit van die twee regters van die Grondwetlike Raad.
# Rugby: Skotland het ‘n einde gemaak aan sy 22 jaar van nederlae in Cardiff na hulle ‘n teen-aanslag van Wallis afgeweer het om ‘n Sesnasie-kragmeting met 27-26 in te palm. Dit was Skotland se eerste oorwinning in die Walliese hoofstad sedert 2002, na elf agtereenvolgende nederlae. Engeland is vroeër goed skrik gemaak in hulle wedstryd teen Italië, wat hulle uiteindelik met 27-24 gewen het. Italië het teen rustyd voorgeloop – wat hulle slegs die derde keer in 31 toetse tussen die twee spanne kon regkry – maar hulle voorsprong van 17-13 is deur Engeland uitgewis.
# En laastens: Die minister van Bosbou, Vissery en die Omgewing, Barbara Creecy, het die verklaring van die De Berg-natuurreservaat in Mpumalanga as Suid-Afrika se 30ste Ramsar-gebied verwelkom. Die verklaring is gedoen ingevolge die Konvensie oor Vleilande van Internasionale Belang. Die departement se woordvoerder, Peter Mbelengwa, sê riviermondings, vleie en mere en die biodiversiteit wat hulle bewaar is belangrik vir gesondheid, voedselvoorsiening, toerisme en werksgeleenthede. Hy voeg by vleilande is noodsaaklik vir die mensdom, ekostelsels en die klimaat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….