Nuus 13:00
BULLETIN 6 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson vra die NVG om op te tree op die tweede herdenking van die gebou-ramp in George
# Iran wil ‘n regverdige en omvattende ooreenkoms met Amerika hê
# En tennis: Die mansafdeling van die Italiaanse Ope begin vandag in Rome
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die Nasionale Vervolgingsgesag versoek om op te tree nadat die polisie sy ondersoek na die gebouramp in George voltooi het. Vier-en-dertig mense is dood en 28 beseer toe die gebou ingetuimel het. Macpherson het op die tweede herdenking van die tragedie gesê dit bly ‘n pynlike herinnering aan die behoefte vir verantwoordbaarheid, en beklemtoon geregtigheid kan nie uitgestel word nie:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê daar is ’n streng proses om te verseker handboeke voldoen aan gehaltestandaarde. Minister Siviwe Gwarube het verlede week die Tesourie gevra om beweerde onreëlmatighede met handboek-aankope te ondersoek ná die toekenning van ‘n tender van 285-miljoen-rand. Woordvoerder Terence Khala sê uitgewer- en skrywer-besonderhede word verwyder sodat boeke onpartydig beoordeel word op grond van leerplan-geskiktheid en onderrig-waarde. Hy sê die drie koste-doeltreffendste keuses word gewoonlik gekies:
# Die KwaZulu-Natalse polisie het in die Durbanse hawe beslag gelê op kokaïen van sowat 13-miljoen-rand. Woordvoerder Robert Netshiunda sê na die beslaglegging op dwelms in Gauteng verlede maand het inligting daarop gedui dat die dwelms Suid-Afrika deur die hawe binnekom. Hy sê intelligensiedienste is geaktiveer en sekere vaartuie is geteiken:
Nuus uit die buiteland:
# Iran sê hy sal slegs ‘n regverdige en omvattende ooreenkoms aanvaar in sy onderhandelings met Amerika oor die beëindiging van die Midde-Oosterse oorlog. Die minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, het op ‘n nuuskonferensie in Beijing gepraat ná ‘n vergadering met China se voorste diplomaat, Wang Yi. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër gesê daar is groot vordering met onderhandelings. Araqchi het nie regstreeks kommentaar gelewer op Trump se aanbod om Amerika se begeleiding van skepe deur die Seestraat van Hormoes tydelik op te skort nie.
# Tennis: Die mansafdeling van die Italiaanse Ope het vanoggend in Rome begin nadat die vroue-afdeling gister begin het. Die 32 gekeurde spelers het loslootjies in die eerste ronde nie en sal eers in die ronde van 64 begin speel. Die plaaslike held en wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, neem die sewende keer deel. Hy het verlede jaar in die eindstryd teen sy groot teenstander, Carlos Alcaraz, verloor. Die Spanjaard neem nie vanjaar deel nie nadat hy ‘n gewrigsbesering opgedoen het. Sinner sal na verwagting Vrydag sy eerste wedstryd speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-715-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-695-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….