Nuus 13:00
BULLETIN 27 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie se voorsieningskettinghoof kan geskors word
# Edward Kieswetter sê bevoegdheid moet swaarder weeg as kaderontplooiing in leierskap
# En krieket: Suid-Afrika en Indië se vroue ontmoet in die laaste T20 in Benoni
# Die hoof van die Suid‑Afrikaanse Polisiediens se voorsieningsketting, Molefe Fani, is bedien met ‘n kennisgewing van voorneme tot skorsing oor sy beweerde rol in ‘n omstrede gesondheidsdienste‑tender. Dit volg op bevindings deur die Spesiale Ondersoekeenheid toe hy die waarnemende hoofverkrygingsbeampte van die Nasionale Tesourie was. Die verslag toon beweerde verkrygings-onreëlmatighede, verkwistende uitgawes en belangebotsings. Fani word verbind met ‘n komitee wat ‘n tender van 360-miljoen-rand aan die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala toegeken het.
# Die uittredende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê daar is niks verkeerd met kader-ontplooiing nie, want alle politieke partye stel lede in sekere posisies aan. Hy waarsku egter dit mag nie die enigste vereiste vir leierskaps-oorweging wees nie. Kieswetter beklemtoon bevoegdheid, vaardighede en prestasie moet voorop gestel word, en voer aan bekwame leiers dien burgers beter, ongeag politieke oortuiging of partylidmaatskap in die regering en openbare instellings. Kieswetter oorhandig Donderdag die posisie aan die inkomende kommissaris, Johnstone Makhubu.
# Die Gautengse Sorgkrisiskomitee is bekommerd oor ‘n verergerende befondsingskrisis in nie-regeringsorganisasies en waarsku noodsaaklike dienste verkeer in gevaar. Baie organisasies het nie toelaes ontvang van die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nie. Die komitee se voorsitter, Lisa Vetten, het aan Newzroom Afrika gesê vertragings en stelselmislukkings kan veroorsaak dat skuilings, versorgingshuise en rehabilitasiesentrums in duie stort. Sy versoek dringende ingryping om ernstige uitwerking op kwesbare gemeenskappe te voorkom:
# Krieket: Suid-Afrika en Indië se vroue pak mekaar vandag in die vyfde en laaste T20 in Benoni, Gauteng. Die Proteas het reeds die reeks beklink danksy oortuigende oorwinnings in die eerste twee kragmetings in Durban en die derde in Johannesburg, voor die besoekers teruggeslaan het met ‘n oorwinning met 14-lopies in die voorlaaste een, ook op die Wanderers. Vandag se wedstryd is die laaste vir die gasvroue voor hulle hul T20-Wêreldbekertoernooi in England op 13 Junie afskop teen Australië.
# En ten slotte: Die vakbondfederasie COSATU sê baie landsburgers sukkel weens die hoë lewenskoste ondanks 32-jaar van demokrasie. Woordvoerder Nonzuzo Dlamini së hoewel politieke vryheid bereik is, bly maatskaplik-ekonomiese uitdagings voortbestaan. Stygende koste vir basiese dienste, skuld en werkloosheid wurg steeds die werkersklas terwyl jeug-werkloosheid hemelhoog bly. Dlamini vra dringende hervormings om bekostigbare leeftoestande en ekonomiese verligting te verseker:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….