Nuus 13:00
BULLETIN 20 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige burgemeester van Knysna word doodgeskiet
# Die man wat na bewering sy meisie vermoor het word in Noordwes vasgetrek met die hulp van die gemeenskap
# En Donald Trump dreig met groter finansiële druk op Iran
# Die voormalige burgemeester en huidige wykraadslid van Knysna, Aubrey Tsengwa, is in die Joodse Kamp-buurt doodgeskiet. Die Wes-Kaapse polisie sê die 48-jarige is in sy voertuig in Ngxalo-straat aangeval. Drie passasiers is gewond, van wie een in die hospitaal opgeneem is. Die aanvaller het weggehardloop en niemand is nog aangekeer nie. Tswenga het van Augustus 2022 tot Februarie verlede jaar as burgemeester gedien. Die polisie ondersoek die motief vir die moord.
Steeds in die Wes-Kaap:
Premier Alan Winde het Jaco Londt as nuwe LUR vir Onderwys aangestel, en Wendy Kaizer-Philander as LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling. Die voormalige LUR vir Onderwys, David Maynier, is nou die nasionale minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing. Londt was sedert Junie 2024 by Maatskaplike Ontwikkeling betrokke. Winde sê Kaizer-Philander is ‘n ervare openbare verteenwoordiger wat sedert 2018 as lid van die provinsiale wetgewer gedien het:
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het die gemeenskap van Joubertina in Klerksdorp, Noordwes, geloof vir hul flinke optrede nadat die polisie hulp gevra het om die 27-jarige Simiso Phakathi op te spoor. Hy is gesoek in verband met die moord op sy 37-jarige vriendin, Jabulisile Tshabalala, in Soweto. Woordvoerder Athlenda Mathe sê inwoners van Joubertina het binne vier uur belangrike inligting gedeel nadat hulle Phakathi aan sy foto herken het:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Iran gedreig met die verpletterendste ekonomiese operasie ooit terwyl ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig, steeds in die lug hang. Trump sê in ‘n plasing op Truth Social Teheran het nie ‘n ooreenkoms aanvaar nie, wat gelei het tot wat hy ekonomiese oorlogvoering en isolasie op ‘n ongekende skaal noem. Hy waarsku ook dat daar ekonomiese gevolge sal wees vir enige land wat sy finansiële instellings, ondernemings, lughawens of regerings-instellings toelaat om enige soort reddingsboei aan Iran te verskaf.
# Sokker: ‘n Lid van Frankryk se Wêreldbeker-kampioenspan van 2018, Paul Pogba, is sonder ‘n klub nadat Monaco hom van sy kontrak vrygestel het weens aanhoudende beserings. Hy is tans langs die kantlyn met ‘n dybesering nadat hy onlangs van ‘n kniebesering herstel het. Die Franse klub sê die doelwitte wat hulle vir die 33-jarige middelveldspeler gestel het, is slegs gedeeltelik bereik. Pogba het voorheen vir die Engelse klub Manchester United en Juventus in Italië gespeel. Hy het tussen 2013 en 2022 91 wedstryde vir Frankryk gespeel en 11 doele aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-905-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-489-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….