Nuus 13:00
BULLETIN 24 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Robert Mugabe se seun vergoed die slagoffer na die skietvoorval in Hydepark
# Sasol bekom sertifisering vir volhoubare stralerbrandstof
# En rugby: Ethan Hooker ondergaan ‘n operasie na die omstrede voorval wat nie as rede vir dissiplinêre optrede beskou word nie
# Die Alexandra-streekhof in Gauteng het gehoor die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Matonhodze, het 250-duisend-rand aan die slagoffer, Sipho Mahlangu, betaal, met ‘n verdere 150-duisend-rand wat later sal volg. Mahlangu is geskiet tydens ‘n geskil in Mugabe se woning in Hydepark, Johannesburg. Mugabe het skuldig gepleit aan vuurwapen- en immigrasie-oortredings, maar poging tot moord ontken. Matonhodze het poging tot moord en verwante aanklagte erken. Die verdediging vra dat hulle nie tronkstraf kry nie, met verwysing na vergoeding en geen vorige veroordelings nie.
# Die Nkabinde-ondersoek het die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, verlof geweier om haar skriftelike verklaring as deel van die rekord toe te laat. Sy gaan nie verder getuig nie omdat sy nie haar regspan mag raadpleeg nie. Die paneel ondersoek die geskorste Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se geskiktheid vir die posisie. Woordvoerder Tiyisela Mpuzana sê dis jammer dat Batohi nie haar getuienis wil voltooi nie:
# Suid-Afrika se petrochemiese maatskappy, Sasol, het ‘n volhoubaarheid-sertifikaat van die voorste Duitse agentskap vir tegniese inspeksie, TÜV SÜD, (spreek uit: “toof zood”) ontvang vir sy volhoubare stralerbrandstof. Die sertifisering maak toekomstige uitvoere na die Europese Unie moontlik. Die brandstof word by Sasol se Natref-raffinadery in Sasolburg in die Vrystaat vervaardig van gebruikte kook- en groente-olie. Sasol beplan om teen 2030 100-miljoen liter te lewer. Die stap ondersteun doelwitte vir skoner energie, maar ontleders waarsku die Europese mark is mededingend en sertifisering bly ʼn uitdaging.
# Die Europese Unie waarsku gesprekke met Iran moet kerndeskundiges insluit, anders kan dit ‘n swakker ooreenkoms wees as 2015 se omvattende aksieplan. Dit is goedgekeur deur die administrasie van die destydse Amerikaanse president, Barack Obama. Iran het ingestem om sy sensitiewe kernbedrywighede te beperk en internasionale inspekteurs toe te laat in ruil vir die opheffing van sanksies. Kaja Kallas van die EU sê Iran mag nie ‘n kernwapen hê nie:
# Rugby: Die Haaie se Springbok-agterspeler, Ethan Hooker, gaan ‘n operasie ondergaan om die omvang te bepaal van die skouerbesering wat hy opgedoen het tydens ‘n omstrede voorval tydens verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys. Luke Morgan het op hom geval nadat hy ‘n drie gedruk het, en sy skouer ontwrig. Hooker sal na verwagting geruime tyd buite aksie wees. Die VRK se uitwysings-kommissie het intussen besluit Morgan se gedrag was nie op die vlak van ‘n rooikaart nie nadat die Haaie ‘n formele hersiening versoek het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-517-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-687-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….