Nuus 13:00
BULLETIN 21 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola se saak word uitgestel om aan te sluit by Matlala se verhoor
# Die DA vra ‘n parlementêre ondersoek na minister Tolashe
# En padwedlope: Keniaanse sterre oorheers die Boston-marathon en verdedig hulle titels
# Die Landdroshof in Pretoria het die saak teen die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, tot 13 Mei uitgestel. Die staat beplan om sy saak te voeg by dié van die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala en sy medebeskuldigdes, wat verbind word aan ‘n tendersaak van 360-miljoen-rand. Aanklaers sê ondersoeke is gevorderd, maar wysigings aan die klagstaat word vereis. Masemola beweer sy onskuld in vier aanklagte ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur:
Nog nuus uit die howe:
# Die vermeende bendehoof, Nafiz Modack, beweer sy verhoor in die Wes-Kaapse Hooggeregshof is onregverdig en vra nuwe regsverteenwoordiging. Dit volg ná ‘n reeks terugslae in sy verdediging. Modack en 14 medebeskuldigdes staan tereg op meer as 100 aanklagte, insluitend die moord op die speurder van die teen-bende-eenheid, Charl Kinnear, in 2020. Die hof het gehoor van die verdediging se sleutelgetuies staaf nie Modack se bewerings nie, terwyl die regter gelas het van die bewyse is ontoelaatbaar.
# Die DA het die parlementêre portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling gevra om te begin met ‘n ondersoek na bewerings teen die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. Sy het vir die Parlement gelieg dat sy twee luukse voertuie van Chinese amptenare ontvang het as skenkings aan die ANC-vroueliga. Die voertuie is egter aan haar kinders gegee vir persoonlike gebruik en nooit verklaar nie. Die DA sê Tolashe moet ook rekenskap gee oor die onregmatige aanstelling en dissiplinering van direkteur-generaal Peter Netshipale.
# Die Stad Johannesburg se noodbestuursdienste waarsku inwoners om versigtig te wees omdat gure weersomstandighede vandag in dele van Gauteng verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn geel vlak 4-waarskuwing uitgereik vir ernstige donderstorms en moontlike swaar neerslae wat tot oorstromings en skade aan infrastruktuur kan lei. Die nooddienste se woordvoerder, Nana Radebe-Kgiba, sê sterk wind kan ook verwag word:
# Padwedlope: John Korir en Sharon Lokedi van Kenia het hul titels suksesvol verdedig in die Boston-marathon in Amerika. Korir het die manswedloop gewen in ‘n byeenkoms-rekord van twee-uur-een-minuut-52-sekondes, terwyl Lokedi die vrouewedloop ingepalm het in twee uur-18-minute-51-sekondes. Albei het teen Heartbreak Hill hul pas verhaas om oortuigende oorwinnings te verseker. Dis die eerste keer sedert 1996 dat albei kampioene hul titels behou, met Kenia wat die vrouepodium die eerste keer ooit oorheers het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-447-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-784-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….