Nuus 13:00
BULLETIN 19 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se inflasiekoers daal tot 4,3-persent
# Ramaphosa maak beswaar teen Madonsela se aanstelling as getuienisleier van die ampsklagskomitee
# En sokker: Spanje se kaptein, Rodri, keer terug huis toe na Barca
# Statistiek Suid-Afrika het aangekondig die jaarlikse verbruikersprysinflasie het verlede maand tot 4,3-persent gedaal vanaf vyf-persent in Junie. Die jongste syfer dui op ‘n afname in prysdruk, terwyl verbruikerspryse maandeliks met 0,2-persent gestyg het. Die daling in jaarlikse inflasie bring die styging in pryse nader aan die middelpunt van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken. Beleidmakers sal die syfers fyn dophou wanneer toekomstige rentekoersbesluite oorweeg word.
# President Cyril Ramaphosa het formeel beswaar aangeteken teen Thandazani Madonsela se aanstelling as getuienisleier vir die Parlement se Artikel 89-ampsklagkomitee. Hy sê Madonsela is in ‘n belangebotsing gewikkel weens sy verwydering as aangewese lid van die Regterlike Dienskommissie in 2022, asook ‘n regsmening wat aan die ANC-koukus verskaf is. Die komitee het twee weke gelede gestem om Madonsela aan te beveel, met nege stemme vir hom en sewe vir die DA-kandidaat, Kate Hofmeyr. Voorsitter Makashule Gana sê die komitee bestudeer die beswaar en sal daarop reageer.
# Die leier van die National Coloured Congress en parlementslid, Fadiel Adams, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het werklik vergeet van die korrespondensie wat aan hom gestuur is. Hy het verskoning gevra en dit toegeskryf aan sy veeleisende program as party-leier. Adams sê hy is besig om probleme op die Kaapse Vlakte op te los. Hy het aan die voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, gesê hy lieg nie vir die kommissie nie:
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Andy Burnham sê Brittanje sal Oekraïne steeds ondersteun om homself teen Russiese aggressie te verdedig. Moskou se ambassade in Londen het Brittanje daarvan beskuldig dat hy doelbewus kies om die krisis te vererger, en sê hoe dieper sy betrokkenheid, hoe hoër die prys wat hy sal betaal. Britse hommeltuie is in onlangse Oekraïense aanvalle op Moskou gebruik. Burnham sê Brittanje sal Oekraïne steun in sy uur van nood:
# Sokker: Die kaptein van Spanje se wêreldkampioenspan, Rodri, gaan tot 2030 vir die Spaanse reus Barcelona speel nadat sy oordrag van die Engelse klub Manchester City bevestig is. Die 30-jarige het volgens berigte ‘n kontrak vir 1,4-miljard-rand gesluit. Rodri, wat die Wêreldbeker se goue bal-toekenning as beste speler ingepalm het, het 196 wedstryde vir City gespeel sedert hy in 2019 van Atlético Madrid aangesluit het. Hy het vroeër vir nog ‘n Spaanse klub, Villarreal, gespeel. Rodri sluit op Camp Nou aan by ander groot name soos Lamine Yamal, Pedri en Dani Olmo.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-339-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-355-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….