Nuus 13:00
BULLETIN 16 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Malema se tronkstraf bewys niemand is verhewe bo die reg nie
# RISE Mzansi sê Roelf Meyer moet hoofsaaklik fokus op ekonomiese diplomasie
# En tennis: Carlos Alcaraz onttrek aan die Barcelona-ope met ‘n gewrigsbesering
# Die VF Plus verwelkom die EFF-leier Julius Malema se vonnis van vyf jaar regstreekse gevangenisstraf en sê die uitspraak versterk die oppergesag van die reg en bevestig niemand is bo die Grondwet verhewe nie. Die woordvoerder, Heloïse Denner, sê die vonnisoplegging bly onderhewig aan appèl, wat beteken Malema kan voortgaan om te dien as Parlementslid tot die proses afgehandel is. Sy sê Malema se gedrag wek ernstige kommer oor geskiktheid en respek vir demokratiese instellings:
# RISE Mzansi vra ‘n beginselvaste, waarde-gegronde vars benadering tot die bande tussen Suid-Afrika en Amerika na Roelf Meyer se aanstelling as ambassadeur in Washington. Woordvoerder Mabine Seabe sê hy moet hoofsaaklik fokus op ekonomiese diplomasie. Hy sê daar was nog nooit so baie op die spel vir Suid-Afrikaanse werkers en sake-ondernemings nie, met meer as 600 Amerikaanse maatskappy in die land wat meer as 250-duisend burgers werk gee:
Die Forum for South Africa sê Meyer se aanstelling vind plaas terwyl albei lande probeer om diplomatieke bande te herstel. Hy volg Ebrahim Rasool op, wat verlede jaar gevra is om Washington te verlaat. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Meyer moet ‘n duidelike plan hê om diplomatieke bande met Amerika bestendig te maak en te versterk, insluitend handelsbande:
# Die Kommunikasie‑risikosentrum sê die oorlog in die Midde-Ooste beïnvloed Suid-Afrika se kommunikasiesektor. Die sektor is afhanklik van diesel vir rugsteunkrag, sowel as vir veilige beplanning om toerusting te verskuif en terreine te onderhou, en digitale betaalstelsels om handel te vergemaklik. Uitvoerende hoof Thokozani Mvelase sê as diesel duurder of moeiliker bekombaar word, as logistiek verlangsaam en as kwesbare infrastruktuur onder groter druk verkeer, word die uitwerking gevoel in internet-verbinding, bedryfskoste en verbruikersvertroue.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Carlos Alcaraz, het aan die Barcelona-ope onttrek weens ‘n regter-gewrigbesering, wat vrese laat ontstaan oor sy deelname aan die Franse Ope. Die 22-jarige Spanjaard moes vandag teen die Tsjeg Tomas Machac speel, maar is aangeraai om te onttrek na mediese toetse. Dis die tweede keer in drie jaar dat ‘n besering hom uit die kleibaan-toernooi dwing. Alcaraz sê hy gaan so gou moontlik met herstel begin en hoop om reg te wees vir die komende toernooie in Madrid en Rome.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-838-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-809-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….