Nuus 13:00
BULLETIN 15 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Activists and Citizens Forum verwerp Roelf Meyer se aanstelling as ambassadeur in Amerika
# Julius Malema se verdediging bepleit strafversagting in sy vonnisoplegging
# En ‘n Kaapstadse swemmer maak geskiedenis met ‘n viervoudige Robbeneiland-kruising
# Activists and Citizens Forum het Roelf Meyer se aanstelling as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Amerika sterk gekritiseer en noem dit ‘n belediging vir vryheidsvegters. Woordvoerder Dennis Bloem sê president Cyril Ramaphosa ondermyn die nalatenskap van die stryd teen apartheid deur ‘n politieke figuur aan te stel wat verbind word met die vorige regering. Hy sê talle gekwalifiseerde Suid-Afrikaners is oor die hoof gesien, en vra burgers om die besluit teen te staan:
# EFF-leier Julius Malema se regsverteenwoordiger, Laurence Hodes, het die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap gevra vir ‘n inskiklike vonnis, insluitend alternatiewe vir gevangenisstraf. Die voorvonnis-verrigtinge het vanoggend begin nadat Malema skuldig bevind is aan onder meer die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied tydens ‘n saamtrek in Mdantsane in 2018. Hodes het aangevoer die vuurwapen is slegs vir vieringsdoeleindes gebruik sonder die bedoeling om skade te doen:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, het die belangrikheid beklemtoon van die handhawing van die wapenstilstand tussen sy land en Iran, en beskryf dit as die sleutel om verdere toename in vyandighede te voorkom. Die tweede ronde vredesgesprekke sal na verwagting binnekort in Islamabad, Pakistan, begin terwyl die wapenstilstand volgende Woensdag eindig. Vance het in Georgië gesê president Donald Trump wil nie ‘n klein ooreenkoms hê nie, maar ‘n omvattende een:
# Swem: Die Kaapstadse langafstandswemmer Karen Kennedy het geskiedenis gemaak toe sy die afstand tussen Bloubergstrand en Robbeneiland binne net meer as tien-uur vier keer afgelê het. Die 59-jarige Kennedy het die ysige tog sonder ‘n duikpak voltooi en wag nou op bekragtiging van Guinness World Records as die eerste en vinnigste vrou om hierdie prestasie te behaal. Sy sê dit is bedoel om vroue te inspireer, veral dié wat ouer as 50 jaar is, om hul drome na te jaag omdat drome nie ‘n vervaldatum het nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-82-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-802-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Durban word dié week oorgeneem deur die 4360 Internasionale Komediefees met drie groot geleenthede. Die program begin met ‘n gratis straatkomediekompetisie by die Workshop-amfiteater, gevolg deur ‘n opwarmingsvertoning in Floridaweg en sluit Vrydag af met die hoof internasionale vertoning in die Bat-sentrum. Die fees, aangebied deur komediant Thenjiwe Moseley, sal plaaslike en internasionale optredes bymekaarbring in ‘n viering van Afrika-komedie en wêreldtalent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….