Nuus 13:00
BULLETIN 14 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NotInMyName veroordeel die beweerde verkragting van ‘n 12-jarige meisie in Gauteng
# ‘n Ontwrigting in die Rea Vaya-busdiens laat Johannesburgse pendelaars gestrand
# En krieket: Punjab is nou die enigste onoorwonne IPL-span nadat Rajasthan in Hyderabad verneder is
# NotInMyName veroordeel die beweerde verkragting van ‘n 12-jarige meisie in Dobsonville, Soweto, as ‘n ernstige skending van kinderregte, waardigheid en veiligheid. Boitumelo Thage van die organisasie vra wetstoepassingsowerhede om vinnig op te tree en te verseker die volle mag van die gereg word toegepas indien die 58-jarige beskuldigde skuldig bevind word. Sy vra gemeenskappe om kalm te bly en die proses te ondersteun, en herbevestig hul standpunt teen geslagsgeweld:
Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, veroordeel ook die beweerde verkragting. Hy het aan eNCA gesê hierdie afskuwelike daad is nog ʼn waarskuwing oor die menslike koste van die regering se voortslepende versuim om die register van seksoortreders ten volle openbaar en toeganklik te maak. Maimane bepleit ook die maksimum vonnis:
# Johannesburgse pendelaars is gefrustreerd nadat Rea Vaya-busdienste vanoggend gestaak is, met roetes in Soweto, Parktown en Braamfontein wat geraak word. Die ontwrigting het belangrike deurgange na en van die middestad beïnvloed, wat passasiers gestrand gelaat en gedwing het om alternatiewe vervoer te soek. Owerhede het nog nie die oorsaak van die opskorting bevestig of wanneer bedrywighede sal hervat nie. Die Stad Johannesburg sal na verwagting ‘n opdatering verskaf aangesien pendelaars steeds vertragings en ongerief ervaar.
# Krieket: Punjab Kings is nou die enigste onoorwonne span in die Indiese Premierliga nadat Rajasthan Royals se vleklose rekord tot ‘n stotterende einde gekom het. Sunrisers Hyderabad het ‘n baie mededingende 216 vir ses aangeteken, waarna Praful Hinge drie paaltjies in sy heel eerste boulbeurt platgetrek het. Rajasthan was op nege vir vyf voor die Suid-Afrikaner Donovan Ferreira en Ravindra Jadeja ‘n sesdepaaltjie-vennootskap van 118 opgestel het. Maar dit was nie genoeg nie en Hyderabad het met 57 lopies gewen. Rajasthan is steeds boaan die punteleer en Punjab tweede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-775-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-786-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê verspreide tot wydverspreide buie en donderbuie oor die sentrale en oostelike dele van die land sal na verwagting die hele week voortduur. Die hewige donderstorms wat oor die verre suidelike deel van Limpopo, Gauteng en Mpumalanga se Hoëveld verwag word, kan moontlike geringe gevolge hê. Die diens sê die weersomstandighede kan skade aan infrastruktuur, informele nedersettings, eiendom, voertuie, lewensgehalte en vee veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….