Nuus 13:00
BULLETIN 10 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA bekom OPOD se Phala Phala-verslag
# Duisende Iraniërs in Teheran herdenk Khamanei se dood terwyl hoop op ‘n skietstilstand vervaag
# En rugby: Ruan Nortjé is die jongste speler om die Bulle aan die einde van die seisoen te verlaat
# ActionSA het die volledige verslag van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat bekom oor die gedrag van lede van die Presidensiële Beskermingseenheid in die nasleep van die Phala Phala-skandaal. Daar is bevind ‘n ondersoek deur die eenheid se hoof, Wally Rhoode, na die diefstal van miljoene dollar van president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo in 2020 het die voorval doelbewus verberg. Woordvoerder Michael Beaumont sê Rhoode is egter steeds in sy pos:
Ramaphosa sê intussen die Amerikaanse administrasie was eerlik in sy beoordeling van se handelsbetrekkinge met Suid-Afrika en hy verwelkom Amerika se bereidwilligheid om betrokke te raak en aandag te skenk aan bekommernisse. Verhoudings is gespanne sedert president Donald Trump na die amp teruggekeer het. Ramaphosa het met die Amerikaanse Kamer van Koophandel in Suid-Afrika gepraat. Hy sê die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging is steeds in gesprekke met die Amerikaanse handelsverteenwoordiger en verskeie komitees oor die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê enige blywende skietstilstands-ooreenkoms tussen Amerika en Iran moet Libanon insluit. Amerika en Israel hou vol Libanon is nie deel van die skietstilstand van twee weke nie, maar Iran verskil. Die bemiddelaar, Pakistan, het uitdruklik verklaar Libanon word ingesluit. Lamola het hoofde van sendings in die Midde-Ooste en Asië toegespreek en sê hierdie konflik raak bykans elke land in die wêreld:
Duisende Iraniërs het intussen opgeruk na die strate van Teheran om die dood van hul voormalige opperleier, Ali Khamenei, te herdenk, terwyl hoop op ‘n skietstilstand met Amerika en Israel begin ontrafel. Khamenei se ondersteuners het portrette van hul ontslape leier vasgehou en die Islamitiese republiek se vlae laat wapper. Khamenei is op 28 Februarie dood in Amerikaans-Israelse aanvalle. Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, en die spesiale gesant, Steve Witkoff, word intussen môre in Pakistan se hoofstad, Islamabad, verwag vir die eerste ronde vredesgesprekke.
# Rugby: Die Bulle se Springbok-slot, Ruan Nortjé, gaan die klub die einde van die seisoen verlaat om in Japan te speel. Die 27-jarige het sy buiging in 2018 gemaak en die span 37 keer aangevoer, wat hom tiende op die kapteinskapslys plaas. Hy het tot dusver in 146 wedstryde vir die Bulle uitgedraf. Nortjé se vertrek volg op dié van die agterspeler David Kriel, wat na Frankryk verhuis, die Bok-stut Wilco Louw, wat by die Stormers aansluit, en die Bok-agterspeler Kurt-Lee Arendse, wat na Sagamihara DynaBoars in Japan terugkeer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-811-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-755-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….