Nuus 13:00
BULLETIN 18 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Wes-Kaapse tiener is vas oor internasionale kinderuitbuiting-netwerke
# Iran sê gesprekke met Oman oor die Seestraat van Hormoes is ingewikkeld maar gaan voort
# En motorsport: Zandvoort bied hierdie naweek sy laaste Nederlandse Grand Prix aan
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n 16-jarige tiener van Malmesbury aangekeer in verband met ʼn internasionale netwerk wat kinders seksueel misbruik. Dit volg op ʼn gesamentlike operasie deur die Amerikaanse Federale Ondersoekburo, die Suid-Afrikaanse Polisiediens se nasionale ondersoekspan vir Elektroniese en Reeksmisdade, die Amerikaanse ambassade en die nasionale sentrum vir vermiste en uitgebuite kinders. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê daar is beslag gelê op toestelle met eksplisiete foto’s en video’s:
# ʼn Gewapende man is doodgeskiet op ʼn plaas by De Hoop buite Robertson in die Wes-Kaap na ʼn ure-lange dooiepunt met die polisie. Hulle het op ʼn klagte gereageer en het onder skoot gekom, waarna die taktiese taakspan ontbied is om in te gryp. Woordvoerder Nonkululeko Phokane sê die situasie is aan die Spesiale Taakmag oorhandig, wat die bedreiging beëindig het. Sy sê ‘n polisiebeampte is gewond en herstel tans:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Ministerie van Buitelandse Sake sê gesprekke duur voort met Oman oor die Seestraat van Hormoes, maar is tydsaam weens ingewikkelde kwessies en sekere rolspelers se pogings om die proses te ondermyn. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het gedreig om Oman te bombardeer indien die land inmeng met sy regering se bedrywighede in die roete. Die ministerie se woordvoerder, Esmaeil Baghaei, sê Iran en Oman het ooreengekom op ‘n roetekaart vir skeepsverkeer, maar ‘n finale ooreenkoms is nog nie bereik nie.
# Motorsport: Zandvoort gaan die naweek die laaste keer die Nederlandse Formule Een Grand Prix aanbied omdat dit nie finansieel lewensvatbaar is nie ondanks die gewildheid. Die wedren is in 2021 weer op die kalender geplaas na ‘n afwesigheid van 36 jaar, maar die inkomste was te laag en die organiseerders het besluit om nie vir verdere werdrenne te bie nie. Verlede jaar se wenner, McLaren se Australiese jaer, Oscar Piastri, is tans sewende in die bestuurders-kampioenskap met 92 punte, 127 punte agter die voorloper, Mercedes se Italiaanse jaer, Kimi Antonelli.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-97-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-390-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-82-sent per vat
# En ten slotte: ‘n Studie deur die Universiteit van Kaapstad het bevind stokvelle kan ‘n belangrike platform word vir die verbetering van voeding en voedselsekerheid in lae-inkomste gemeenskappe. Die Internasionale Navorsings- en Ontwikkelingsentrum het die studie befonds. Ondersoek is ingestel na die uitwerking van kruideniersware-stokvelle op voedselaankope en voedingsverwante besluite in twee lae-inkomstegemeenskappe in Kaapstad, Dunoon en Khayelitsha. Die universiteit sê die groepe het meestal bestaan uit tussen 10 en 30 lede wat elk tussen 200- en een-duisend-500-rand per maand bygedra het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….