Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille sê die Suid-Afrikaanse toerismesektor se opwaartse momentum duur voort
# NSFAS heropen aansoeke vir die akademiese jaar
# En, rugby: Die Stormers oorweeg Duane Vermeulen as afrigter
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Statistieke Suid-Afrika se onlangse amptelike syfers vir internasionale toeriste beklemtoon die opwaartse neiging in Suid-Afrika se toerismesektor. Altesaam 8,5-miljoen internasionale toeriste het die land verlede jaar binnegekom, wat ‘n toename van 48,9-persent is teenoor 2022. Die ministerie se woordvoerder, Zara Nicholson, sê Suid-Afrika het tussen Januarie en Desember 2023 6,4-miljoen besoekers uit die res van Afrika verwelkom, wat 75,6-persent van alle aankomste was:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy verleng die 2024-beursaansoeke vanaf môre tot 15 Februarie. Die skema se waarnemende raadsvoorsitter, Lourens van Staden, en die president van die Suid-Afrikaanse Studentevakbond, Yandisa Ndzoyiya, het hierdie ooreenkoms bereik tydens ‘n bespreking oor die stand van gereedheid vir die begin van die akademiese jaar. Die woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê studente wat reeds aansoek gedoen het, hoef nie ‘n nuwe aansoek in te dien nie:
# Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het steeds nie sy nuwe hoëtegnologie-nommerplate bekend gestel nie. Dit is ondanks die feit dat die departement in Oktober verlede jaar gesê het hy sal die nuwe nommerplate voor die einde van die jaar bekendstel. Premier Panyaza Lesufi het verlede jaar in sy provinsiale rede verklaar die nuwe, peutervrye nommerplate is noodsaaklik omdat motorvoertuie ‘n gemene deler is in misdaad regdeur Suid-Afrika. Die departement het sedertdien nog geen besonderhede oor die projek bekend gemaak nie.
# Die Houthi-beweging in Jemen sê hy het ‘n Amerikaanse handelskip in die Rooi See getref in ‘n nuwe aanval wat kommersiële verskeping teiken. Die beweging sê die skip, KOI, word deur die VSA bedryf. ‘n Maritieme sekerheids-onderneming, Ambrey, sê ‘n vaartuig wat suid van die Jemeense hawe Aden was, het ‘n ontploffing aan boord aangemeld, maar maak nie die skip se naam bekend nie. Intussen het Amerika nuwe lugaanvalle in Jemen van stapel gestuur, waarin tien hommeltuie geteiken is wat volgens berigte opgestel was vir lansering.
# Rugby: Die uitgetrede Springbok-veteraan, Duane Vermeulen, het volgens berigte opbouende samesprekings met die Stormers gevoer oor die moontlikheid om af te rig. Albei partye wag skynbaar op die goedkeuring van SA Rugby. Hy kan volgens Netwerk24 by Westelike Provinsie se junior voedingsgroep as ʼn voorspeler-afrigter aansluit en terselfdertyd as konsultant vir die Stormers optree. Vermeulen se agent bevestig sy moontlike aanstelling moet deur SA Rugby goedgekeur word. Die beheerliggaam het nog niks laat rep oor die moontlike verwikkeling nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-213-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-42-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….