Nuus 13:00
BULLETIN 2 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sakeman Calvin Mathibeli trek aantygings teen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris terug
# Vyf-en-twintig mense is beseer in ‘n botsing naby die Tugela-plaza in KwaZulu-Natal
# En, krieket: Van der Dussen beëindig sy Protea-loopbaan
# Die regsgeskil tussen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en die sakeman Calvin Mathibeli is besleg na Mathibeli lasterlike plasings op sosiale media teruggetrek en verwyder het. Die Hooggeregshof in Durban het teen Mathibeli beslis en hom gelas om regskoste te betaal. Sy bewerings teen Mkhwanazi is van die hand gewys, en sy poging om ‘n polisie-inspeksie te keer, het ook misluk. Die polisie gaan intussen voort met Operasie Buyisa, wat onwettige vuurwapens teiken en voldoening by Mathibeli se sekerheidsmaatskappy en ander afdwing.
# Vyf-en-twintig mense is beseer in ‘n botsing tussen ‘n bus, twee vragmotors en talle ander voertuie naby die Tugela-plaza in KwaZulu-Natal. Die provinsiale Vervoerdepartement se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê daar was minstens 52 passasiers en die bestuurder op die bus. Hy waarsku padgebruikers om versigtig te wees, veral met die aanvang van die Paas-langnaweek en groot verkeersvolumes wat verwag word:
Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens gedeeltelik bewolkte toestande met geïsoleerde tot verspreide buie en donderbuie oor dele van die land voorspel vir vandag en môre. Weervoorspeller Tokelo Chiloane sê met die veranderende weersomstandighede word reisigers aangemoedig om veiligheid eerste te stel, veral in gebiede waar donderstorms en swak sigbaarheid kan voorkom:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Handel- en Ontwikkelings-afdeling waarsku die skokgolwe weens die sluiting van die Seestraat van Hormoes kan wêreldwye groei vertraag. Die sluiting volg te midde van Amerika en Israel se gesamentlike militêre aanvalle op Iran en Teheran se vergeldingsaanvalle op die Golf se energie-infrastruktuur, wat energie-pryse laat opskiet het. Die VN sê verkeer deur die seestraat het afgeneem vanaf 95-persent, of ongeveer 130 skepe per dag, tot slegs ses verlede maand. Hy sê hoër energie-pryse kan lewenskoste verhoog.
# Krieket: Die kolwer Rassie van der Dussen het sy Protea-loopbaan beëindig. Die 37-jarige het in 2018 vir Suid-Afrika begin speel en sedertdien altesaam vier-duisend-968 lopies in alle formate aangeteken. Van der Dussen sê hy tree met ‘n trotse hart en diepe dankbaarheid uit die internasionale spel, en beskryf dit as die grootste eer van sy lewe om vir sy land te speel. Krieket Suid-Afrika se direkteur van nasionale spanne, Enoch Nkwe, sê sy nalatenskap in die groen en goud strek verder as sy vertonings op die veld.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-389-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-627-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….