Nuus 13:00
BULLETIN 31 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika is gereed vir wêreldwye belegging
# SANTACO sê ‘n styging in taxitariewe is nodig in die huidige ekonomiese toestande
# En krieket: Lehmann sê Engeland se keurders ignoreer graafskaptalent
# Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, sê Suid-Afrika bly ‘n aantreklike beleggingsbestemming ondanks internasionale onsekerheid. Hy het op die sesde Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie in Sandton, Johannesburg, die veerkragtigheid ná handelsontwrigtings in sleutelsektore beklemtoon. Tau sê die regering het die situasie omgekeer en handel uitgebrei na nuwe markte in Afrika, Asië en die Midde-Ooste. Hy sê ‘n ooreenkoms tussen Afrika en China sal Suid-Afrikaanse uitvoere vanaf Meimaand belastingvrye toegang bied:
# Die nasionale taxivereniging SANTACO sê berigte van brandstoftekorte, beperkings by vulstasies en stygende dieselpryse plaas reeds ‘n las op taxiverenigings en -operateurs reg oor Suid-Afrika. Brandstofpryse sal na verwagting môre skerp styg weens die voortslepende oorlog in die Midde-Ooste. Rebecca Phala van SANTACO sê taxiverenigings was weens die huidige dringendheid en heersende ekonomiese toestande genoodsaak om tariewe te verhoog sodat hulle hul bedrywighede kan voortsit.
Die Internasionale Monetêre Fonds sê intussen die Midde-Oosterse konflik verduister die vooruitsigte vir baie ekonomieë wat pas tekens van volgehoue herstel begin toon het ná vorige krisisse. Groot energie-invoerders in Asië en Europa dra die las van hoër brandstof- en insetkoste weens die sluiting van die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes. Die fonds sê ‘n kort oorlog kan olie- en gaspryse laat styg voor die markte aanpas, terwyl ‘n lang oorlog duur energie kan veroorsaak en lande raak wat op invoere staatmaak.
# Krieket: Northamptonshire se hoofafrigter, Darren Lehmann, glo Engeland se internasionale spelers speel nie genoeg graafskapskrieket nie en plaaslike talent word ignoreer. Dit volg op Engeland se probleme in die onlangse toetsreeks om die As teen Australië. Lehmann het aan Engeland se besturende direkteur, Rob Key, en toetskaptein Ben Stokes gesê hy het nie ‘n Engelse keurder gesien gedurende sy eerste jaar in beheer nie. Sy kolwer, Saif Zaib, is oor die hoof gesien vir die Engelse Leeus se toer al het hy een-duisend-425 lopies in die laaste seisoen aangeteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-353-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-558-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-65-sent per vat.
# En ten slotte: FNB verwag vanjaar meer kliëntebesteding oor Paasfees aangesien gesinne voordeel trek uit ‘n langnaweek vroeg in die maand met die skoolvakansie ingesluit. FNB se uitvoerende hoof van kredietkaarte, Senzo Nsibande, sê hulle het bemoedigende tekens van veerkragtigheid waargeneem in die drie weke voor verlede jaar se Paasfees. Algehele kredietkaartbesteding het 5,7-miljard-rand bereik, wat ‘n jaarlikse toename van vyf-persent verteenwoordig. Nsibande sê kruideniersware, algemene inkopies en brandstof bly die hoof-bestedingskategorieë.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….