Nuus 13:00
BULLETIN 28 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Missiel word vir die eerste keer tydens die Midde-Oosterse konflik uit Jemen afgevuur
# Die ANC in die Oos-Kaap sê vir sy konferensie-afgevaardigdes om “huis toe te gaan”
# En gholf: Tiger Woods word op borgtog vrygelaat na ’n motorongeluk en ‘n aanklag van dronkbestuur
# Israel het vandag gesê hulle het ‘n missiel waargeneem wat uit Jemen afgevuur is, die eerste sedert die Iran-oorlog begin het. Die VSA se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het vroeër gesê Amerika verwag om militêre operasies binne weke, nie maande nie, af te handel. Jemen se Iran-verbonde Houthi’s het gesê hulle is bereid om in te gryp as die aanvalle op Iran toeneem. Houthi-betrokkenheid by die oorlog sal die konflik vererger, gegewe hul vermoë om teikens ver buite Jemen te tref en skeepsroetes rondom die Arabiese Skiereiland en die Rooi See te ontwrig.
# Die ANC in die Oos-Kaap het die afgevaardigdes vir die party se 10de provinsiale konferensie aangesê om huis toe te gaan nadat die Hooggeregshof in KuGompo-stad gister ‘n uitstel van die geleentheid gelas het. Die ANC se provinsiale sekretaris, Lulama Ngcukaitobi, het aan Newzroom Afrika gesê die konferensie is opgeskort weens regskwessies wat deur die nasionale sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, geopper is, hangende die afhandeling van alle sake voor die hof:
# Die DA verwelkom die bevestiging dat die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, ter ondersteuning van die polisie in gemeenskappe wat deur bendegeweld geraak word, Woensdag sal begin. Die party sê gemeenskappe wat daaglikse geweld in die gesig staar, verdien dringende ingryping. Nicholas Gotsell van die DA sê die Parlement het steeds nie duidelikheid oor hoe die 823-miljoen-rand wat aan hierdie ontplooiing toegeken is, bestee sal word nie:
# Gholf: Tiger Woods is op borgtog vrygelaat na sy inhegtenisneming op ‘n aanklag van dronkbesuur nadat hy gistermiddag sy motor tydens ‘n ongeluk in Florida gerol het. Sheriff John Budensiek by die Martin County-balju se kantoor het gesê die 15-malige Major-kampioen is ook aangekla van saakbeskadiging en weiering om ‘n wettige toets te ondergaan. Die 50-jarige Woods het sy Land Rover gerol nadat hy teen ‘n vragmotor in Jupiter-eiland gebots het:
# Motorsport: Kimi Antonelli het sy tweede agtereenvolgende voorste wegspringplek behaal toe hy sy Mercedes-spanmaat George Russell tydens die kwalifisering by die Japannese Grand Prix geklop het. Antonelli was deurgaans die vinnigste en het Russell met 0,298-sekondes geklop, ondanks daarvan dat hy nie op sy laaste lopie by Suzuka kon verbeter nie. Russell het Oscar Piastri van McLaren geklop, wat in die tweede plek saam met Charles Leclerc van Ferrari sal wegspring. McLaren se Lando Norris was vyfde. Hy is voor Lewis Hamilton se Ferrari, terwyl Max Verstappen in die tweede sessie uitgeskakel is en 11de sal wegspring.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het ‘n afname van 50-persent in tuberkulose-diagnoses aangeteken met ‘n toename in toetse van ‘n duisend tot sewe-duisend per maand. Die TB-positiwiteitskoers het van 20-persent in 2021 tot 10-persent in 2025 gedaal. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die deurbraak stem ooreen met die Wêreldgesondheidsorganisasie se End TB-strategie, gesteun word deur die mobilisering van leierskap, die versterking van belegging in TB-programme en die versnelling van die bekendstelling van nuwer, vinniger diagnostiese instrumente.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….