Nuus 13:00
BULLETIN 17 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie se brandalarm word ondersoek
# ‘n Waterwaarskuwing in Kaapstad wek opnuut kommer oor Dag Zero
# En rugby: Rassie gaan die All Blacks tot Donderdag aan die raai hou
# Die Brigitte Mabandla-kollege vir Justisie in Pretoria, waar die Madlanga-kommissie se verrigtinge plaasvind, is veilig verklaar nadat ‘n brandalarm vanoggend ‘n voorsorg-ontruiming veroorsaak het. Tshwane se nooddienste het die gebou ondersoek en bevestig geen brand het uitgebreek nie en niemand is beseer nie. Die kommissie het intussen hervat, met die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala wat getuig. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het bevestig veiligheidsmaatreëls is intussen verskerp:
# Die DA het weer gevra dat gereelde, geloofwaardige en omvattende leefstyloudits in die Polisiediens uitgevoer word. In die vorige boekjaar is 72 gevalle vir leefstyloudits verwys. Ses is vir verdere ondersoek verwys terwyl 30 nog aan die gang is. Woordvoerder Lisa Schickerling sê desondanks is geen enkele lid nog aan tugoptrede onderwerp nie en geen geval na ‘n ander wetstoepassingsagentskap of ʼn oorsig-liggaam verwys nie:
# Kaapstad is opnuut bekommerd oor sy watervoorraad namate vrese oor ‘n herhaling van 2018 se Dag Zero-krisis toeneem. Stad Kaapstad sê in sy jongste Watervooruitsigverslag die waarskuwing is ‘n vroeë oproep vir inwoners om water verantwoordelik te gebruik, terwyl die metro dalende reënval, damvlakke en watervraag noukeurig dophou. Amptenare beklemtoon die stad beleef nie tans ‘n droogte nie, maar vra inwoners om water te bespaar en vroeg op te tree om druk op die watervoorrade te voorkom aangesien klimaatonsekerheid steeds ‘n beduidende gevaar inhou.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse gesant en president Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, gaan vandag die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, ontmoet. Dit volg op buitengewone gesprekke met Hamas-leiers oor die instel van die 15-punt-vredesplan vir Gaza wat deur Amerika gesteun word. Netanyahu het die plan verwerp, wat ‘n reeks opeenvolgende stappe behels, insluitend die ontwapening van Hamas en die onttrekking van die Israelse Weermag. Hamas het ingestem tot ‘n ontwapeningsplan, maar waarsku dit kan slegs gebeur as Israel sy verpligtinge ingevolge die vorige skietstilstands-ooreenkoms nakom.
# Rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus het besluit om die All Blacks so lank moontlik aan die raai te hou deur eers Donderdagmiddag sy groep aan te kondig vir Saterdag se eerste toets. Hy kondig gewoonlik die span baie vroeër aan, maar het dit in die verlede ook so gedoen vir ‘n kragmeting met Nieu-Seeland. Erasmus wag glo steeds op nuus oor die fiksheid van spelers soos kaptein Siya Kolisi en die loskopstut Ox Nché. Kenners voorspel dat hy sy mees ervare span vir Ellispark sal kies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-311-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-398-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….