Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kodwa verwelkom die besluit om ‘n veiling van Mandela se items op te skort
# Die Tshwane-metropolisie keer AfriForum se herstelwerk in Centurion
# En, rugby: Die Springbokke help die Wêreldbekertoernooi in Frankryk tot ‘n rekord kykertal
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het Guernsey’s-afslaers se besluit verwelkom om die veiling van oudpresident Nelson Mandela se items op te skort. Die Suid-Afrikaanse Erfenis-hulpbronne-agentskap het bevestig die veiling is opgeskort nadat hy gesprekke gevoer het met die afslaers en Mandela se dogter, Makaziwe. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê hulle verwelkom die samewerking tussen die agentskap en Guernsey’s:
# AfriForum sê hy moes herstelwerk aan ‘n reuse-slaggat in Centurion staak nadat die Tshwane-metropolisie ingeroep is om hulle vrywillige werk te stop. Inwoners het die burgerregte-organisasie se plaaslike buurtspan genader om te help om die slaggat op die hoek van Kort- en Theodore-straat in Kloofsig te herstel. AfriForum se sameroeper vir Pretoria-Suid, Dewet Ungerer, sê die slaggat is die afgelope ses maande reeds talle kere by die metro aangemeld, maar niks gebeur nie:
# ‘n Regter van Delaware in Amerika het ‘n betaalooreenkoms van meer as ‘n duisend-miljard-rand nietig verklaar wat die elektriese motoronderneming Tesla in 2018 aan Elon Musk toegeken het. ‘n Aandeelhouer het aangevoer dit is te veel. Die regter het beslis die goedkeuring van Tesla se raad is uiters gebrekkig. Dit was die grootste salarisooreenkoms ooit in korporatiewe geskiedenis, wat die Suid-Afrikaans-gebore entrepreneur een van die rykste mense in die wêreld gemaak het. Die uitspraak kan na die Hoërhof in Delaware op appèl geneem word.
# Rugby: Dit blyk verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk was die rugbygeleentheid wat die meeste kykers in die geskiedenis gelok het, en Suid-Afrika het ʼn sleutelrol gespeel in daardie sukses. Volgens Wêreld-Rugby was daar ʼn styging van 19-persent in die kykertal in vergelyking met 2019 se toernooi in Japan. Die pronkstuk het ʼn ongelooflike 1,33-miljard kyker-ure behaal. Die Springbokke het bygedra tot die hoogste wêreldwye kykertal van 481-miljoen kyker-ure. Die eindstryd tussen die Bokke en die All Blacks het ʼn nuwe rekord opgestel met 94-miljoen kyker-ure.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-870-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-38-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-95-sent per vat.
# Ten slotte: Die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid het verduidelik die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels is nie bedoel om ‘n algehele sigaretverbod in te stel nie, maar om kwesbares teen tweedehandse rook te beskerm. Die wetsontwerp stel verder gewone verpakking met grafiese gesondheidswaarskuwings voor. Die waarnemende voorsitter, Annah Gela, beklemtoon die noodsaaklikheid om onwettige sigarethandel te bekamp terwyl rook gereguleer en nie verbied word nie. Die komitee is nou besig om openbare insette in provinsies in te samel oor die voorgestelde wetgewing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….