Nuus 13:00
BULLETIN 27 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye vra die repatriasie van buitelandse gevangenes om oorbevolking in tronke te verlig
# Rugby: ‘n Deurslaggewende naweek vir Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap
# En: Hoë verkeersvolumes word vanmiddag op die N3-tolpad verwag
# Verskeie politieke partye, insluitend die DA, die Vryheidsfront Plus en ActionSA, bepleit die deportasie van veroordeelde buitelandse burgers in ‘n poging om die land se oorbevolkte gevangenisse aan te pak. Meer as 26-duisend buitelandse burgers is in Suid-Afrikaanse tronke, wat belastingbetalers ongeveer elf-miljoen-rand per dag kos. Die land se oorbevolkingsyfer in gevangenisse is 57-persent. Die politieke partye voer aan repatriasie kan uitgawes verminder, druk op korrektiewe fasiliteite verlig en rehabilitasiepogings verbeter.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê sy neem kennis van toenemende kommer oor swakpunte in SIM-kaart-registrasieprosesse wat nasionale veiligheidspogings ondermyn en georganiseerde misdaad vergemaklik. Die minister het onlangs met belanghebbendes gesels om uitdagings rondom SIM-kaart-registrasie aan te spreek. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê dit is belangrik om te verseker die regulatoriese raamwerk hou tred met tegnologiese ontwikkelings, insluitend die opkoms van eSIM-tegnologieë:
# Die Good-party het die voorgestelde tariefverhoging van die George-munisipaliteit se koalisie-regering vir die 2026/2027-boekjaar gekritiseer. Die beoogde verhogings is 11,32-persent vir krag, ses-persent vir water en afvalverwydering. Rosa Louw van GOOD sê die munisipaliteit het 797,1-miljoen rand vir kapitale projekte toegeken, hoewel waterinfrakstruktuur steeds verbrokkel, straatligte onklaar raak en pompstasies nie werk nie:
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap gaan ‘n deurslaggewende naweek tegemoet en hoop op oorwinnings om hulle plekke in die uitspeelrondes te verseker. Die Stormers is tweede op die punteleer, en is môre-aand die gashere vir Edinburgh in Kaapstad. Die Bulle en die Leeus hoop om na die top ses te vorder en kom in tuiswedstryde onderskeidelik teen Munster en die Dragons te staan. Die Haaie is elfde op die punteleer en vanaand die gashere in Durban teen Cardiff . Hulle is desperaat om voort te bou op onlangse vertoning en onder die top-agt te eindig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-434-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Die N3-tolkonsessie sê verkeersvolumes sal na verwagting vanmiddag op die N3-tolpad tussen Gauteng, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga toeneem. Die skole sluit vandag en Paasnaweek lê voor. Die N3-tolkonsessie se bedryfshoof, Thania Dhoogra, sê die handhawing van veilige volgafstande is een van die doeltreffendste maniere waarop voertuigbestuurders ongelukke kan vermy. Sy sê die gevaar van botsings neem toe wanneer verkeersvolumes toeneem en gaan gewoonlik gepaard met moeë bestuurders en padgebruikers wat groter kanse vat:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….