Nuus 13:00
BULLETIN 17 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa vra die Amerikaanse ambassadeur om beskuldigings van volksmoord en onteiening sonder vergoeding te staaf
# Minister Groenewald onthul die oorbevolkingskrisis in Suid-Afrikaanse tronke vererger
# En sokker: Iran vra FIFA om sy Wêreldbeker-groepwedstryde van Amerika na Mexiko te skuif
# Die UDM-leier, Bantu Holomisa, het die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, gevra om beskuldigings van volksmoord en onteiening sonder vergoeding te staaf. Dis skynbaar deur die Amerikaanse regering genoem en het wyd versprei in die internasionale gemeenskap. Holomisa het tydens ‘n hoflikheidsvergadering met Bozell gesê sy aankoms in Suid-Afrika kom op ‘n tydstip waarin verhoudings tussen die twee lande ‘n mate van spanning ervaar:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het aan die Parlement gesê hy is toenemend bekommerd oor die gevangenisstelsel. Data toon 168-duisend-672 gevangenes word in tronke aangehou wat vir 107-duisend mense gebou is – ‘n oorbevolking van 58-persent. Groenewald het die syfers bekendgemaak ná ‘n vraag van die EFF. Die Oos-Kaap, die Wes-Kaap en Gauteng word die swaarste getref, met meer as 200 gevangenisse wat hul vermoë oorskry. Dit veroorsaak kommer oor toestande en vertragings in die strafregstelsel.
# Die EFF is bekommerd oor die verdoemende verslag wat die Ouditeur-Generaal aan die Parlement se staande komitee oor die stand van munisipaliteite voorgelê het. Woordvoerder Sinawo Tambo sê munisipaliteite het sedert die 2020/21-boekjaar ‘n verstommende 137-miljard-rand se ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes aangegaan. Hy sê ondersoeke na bedrog en onbehoorlike gedrag in voorsieningsketting-bestuursprosesse word steeds doelbewus vermy of gemanipuleer. Tambo eis gesamentlike openbare verhore tussen parlementêre komitees om die ineenstorting van plaaslike regeringsfinansies te vermy.
# Verkeersbeamptes in die Stad Kaapstad het ‘n taxibestuurder met uitstaande boetes van meer as 220-duisend-rand naby die N2 in hegtenis geneem. Hy was een van 360 verdagtes wat die stad se wetstoepassingsagentskappe die afgelope week vasgetrek het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê om inhegtenisneming te vermy, sal motoriste die geleentheid hê om boetes te vereffen by die stad se verkeersveldtogte langs die pad:
# Sokker: Iran het die wêreldbeheerliggaam, FIFA, volgens berigte gevra om sy Wêreldbeker-groepwedstryde van Amerika na Mexiko te skuif. Twee van die wedstryde is geskeduleer vir Los Angeles en die ander een in Seattle, maar Iran is bekommerd oor sy spelers se veiligheid na die Amerikaanse en Israelse aanvalle op die land. Die president van Iran se beheerliggaam, Mehdi Taj, sê die span sal nie na Amerika reis nie nadat president Donald Trump uitdruklik verklaar het hy kan nie hul veiligheid verseker nie. Amerika, Mexiko en Kanada is mede-gashere.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-156-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-16-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….