Nuus 13:00
BULLETIN 13 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA maritieme owerheid monitor die Midde-Oosterse konflik te midde van kommer oor skeepsroetes
# Die Verenigde Nasies bevind Rusland het misdade teen die mensdom gepleeg met die ontvoering van Oekraïnse kinders
# En sokker: Trump sê dit sal beter wees as Iran nie aan die Wêreldbekertoernooi deelneem nie
# Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid monitor die Midde-Oosterse konflik en die moontlike uitwerking daarvan op globale skeepvaartroetes. Amerikaanse en Israelse aanvalle op Iran het die verkeer in die Seestraat van Hormuz ontwrig, waardeur ongeveer 20-persent van wêreldolie-voorrade verskeep word. Skeepsmaatskappye herlei toenemend vaartuie om die Kaap die Goeie Hoop. SAMSA se uitvoerende hoof, Dennis Mqadi, sê hulle is gereed om skepe wat om Suid-Afrika se kuslyn vaar, te help met veiligheids- en navigasie-ondersteuning.
# Die adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, sê padsterftes kos die ekonomie jaarliks ongeveer 266-miljard-rand. Bestuurdersgedrag is verantwoordelik vir ongeveer 80-persent van noodlottige ongelukke, terwyl voetgangers byna 45-persent van padsterftes verteenwoordig. Hlengwa het aan Newzroom Afrika gesê meer as 11-duisend mense het verlede jaar op Suid-Afrikaanse paaie gesterf. Hy beklemtoon die regering verskerp padveiligheidspogings voor die komende langnaweke en vakansiedae, met verhoogde ontplooiing van wetstoepassing en openbare opvoedingsveldtogte:
# Die Stad Johannesburg se Eiendomsmaatskappy het 18 strafregtelike sake aanhangig gemaak nadat verskeie eiendomme in die stad bedrieglik sonder toestemming aan individue oorgedra is. Die bedrog behels vervalste dokumente en handtekeninge, en die sake is by verskeie polisiestasies geregistreer. Die stad vra ook Hooggeregshof-bevele om die eiendomme weer na die munisipaliteit oor te dra, en bly daartoe verbind om openbare bates te beskerm en diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik te hou.
Nuus uit die buiteland:
# Rusland het sedert 2022 stelselmatig minstens een-duisend-200 Oekraïense kinders gedeporteer en met geweld oorgeplaas. Dit is volgens die jongste verslag van die Verenigde Nasies se Menseregteraad. Kommissaris Erik Møse sê hulle het bevind dat Russiese owerhede twee soorte misdade teen die mensdom gepleeg het: die deportasie en gewelddadige oorplasing van kinders, en gedwonge verdwynings. Hy sê baie ouers en wettige voogde weet steeds nie waar die kinders is nie:
# Sokker: President Donald Trump van Amerika sê Iran moet vir hul eie lewens en veiligheid eerder nie aan die Wêreldbekertoernooi deelneem nie weens die konflik in die Midde-Ooste. Iran speel sy groepswedstryde teen België, Egipte en Nieu-Seeland in die toernooi wat op 11 Junie in Amerika, Kanada en Mexiko begin. Iran sê egter geen mens kan ’n land van die Wêreldbeker uitsluit nie, en voer aan Amerika kan nie die nodige sekerheidsmaatreëls vir deelnemende spanne bied nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-765-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-87-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….