Nuus 13:00
BULLETIN 12 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsampteanre vra regverdigheid met die ontslag van meer as 50 grensbeheerbeamptes
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jack Draper skakel Djokovic uit in Indian Wells
# En Britse natuurlewe vervang geskiedkundige figure soos Churchill en Shakespeare op banknote
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy neem kennis van die afdanking van meer as 50 grensbeheerbeamptes, maar teenkorrupsie-optrede moet altyd uitgevoer word in pas met beginsels van regverdigheid. Daar is bevind die beamptes sou betrokke gewees het by korrupsie by toegangsroetes in Suid-Afrika. Nog 38 immigrasiebeamptes word tans ondersoek. Claude Naicker van die vakbond sê al die werknemers wat geraak word moet ‘n regverdige geleentheid kry om hul saak te stel:
# Die hoof-ekonoom van die Landbou-sakekamer van Suid-Afrika, Wandile Sihlobo, sê die Agbiz-landbouvertrouens-aanwyser het in die eerste kwartaal van vanjaar met 18 punte gedaal tot 49, wat die laagste vlak is sedert die derde kwartaal van 2024. Sihlobo sê bek-en-klouseer, Afrika-varkpes en dalende wêreldpryse van suiker en koring bly die gootste bekommernisse. Hy voeg by die Midde-Oosterse konflik veroorsaak vrese oor stygende energie- en kunsmiskoste, wat bydra tot ‘n negatiewe vooruitsig onder die land se landbou-ondernemings.
# Die Stad Johannesburg sê hy is besig met ondersoeke na die oorsprong van die swaelagtige reuk wat sedert Januarie in dele van Sandton, Randburg, Roodepoort en Fourways aangemeld word. Data by die Buccleuch- en die Alexandra-moniteringstasies het verhoogde vlakke van waterstofsulfied bevestig. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die Departement van Omgewings- en Infrastruktuurdienste se Luggehalte-bestuurseenheid werk saam met ander regeringsafdelings om die reuk se oorsprong vas te stel:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jack Draper, het die wêreld-nommer-drie, Novak Djokovic, in die ronde van 16 van die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika uitgeskakel. Die 14de-gekeurde Brit moes hard werk om die 38-jarige Serwiër in die beslissende stel se valbylpot te verslaan. Dit het verhoed dat Djokovic die eerste keer na die kwarteindronde deurdring sedert hy die toernooi in 2016 die vyfde en laaste keer gewen het. Draper pak nou die 11de-gekeurde Rus, Daniil Medvedev. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, speel in die kwarteindronde teen die Amerikaner Learner Tien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-651-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-174-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Uitbeeldings van Britse natuurlewe sal geskiedkundgie figure soos William Shakespeare en Winston Churchill vervang op die Bank van Engeland se volgende reeks banknote. Dit volg nadat geskiedkundige figure, insluitend Alan Turing en Jane Austen, langer as 50-jaar op note gepryk het. Koning Charles se uitbeelding sal steeds op die volgende reeks note verskyn. Die besluit is geneem na raadpleging waarin die natuurlewe-tema die meeste benoemings ontvang het. ‘n Tweede raadpleging sal later vanjaar plaasvind om menings te verkry oor die spesifieke natuurlewe wat op die note moet verskyn.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….