Nuus 13:00
BULLETIN 10 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners moet hul staal vir rekordstygings in brandstofpryse
# Die MK-party verwerp Ramaphosa se versoek vir meer tyd om die ad hoc-komitee se vrae te beantwoord
# En tennis: Alcaraz en Sinner is deur na die ronde van 16 in Indian Wells
# Suid-Afrikaners staal hulle vir ’n finansiële terugslag terwyl kenners waarsku oor rekordstygings in brandstofpryse. ’n Styging van tot vyf-rand per liter word voorspel weens die konflik in die Midde-Ooste en die verswakkende rand. Stanlib-batebestuur se hoofekonoom, Kevin Lings, sê dit sal ’n domino-uitwerking op lewenskoste hê. Hy sê die omvang van die skerp styging is ongekend en plaas enorme druk op huishoudings wat reeds swaarkry. Lings sê dit kan Suid-Afrika se kwesbare ekonomiese herstel kelder.
# Die MK-party het ‘n versoek van president Cyril Ramaphosa verwerp om die sperdatum vir die indien van skriftelike antwoorde aan die Parlement se ad hoc-komitee te verleng. Ramaphosa is onder die vergrootglas weens bande wat in getuienisse genoem word, insluitend rondom die taakspan teen politieke moorde. ‘n MK-parlementslid, Sibonelo Nomvalo, sê die president het genoeg tyd gehad en moet onmiddellik reageer om komiteelede toe te laat om opvolgvrae te vra:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika gaan ongeveer 11,3-miljard-rand belê om die Kaapstadse Internasionale Lughawe op te gradeer en uit te brei. Woordvoerder Ofentse Dijoe sê die program sluit ‘n nuwe binnelandse aankomstesaal, uitgebreide vertrekgeriewe en opkappings van internasionale sale in. Planne sluit ook ‘n nuwe aanloopbaan en bykomende parkeerplekke vir groter vliegtuie in. Die projek sal passasiersvermoë verhoog en toekomstige groei steun nadat die lughawe verlede jaar 11,1-miljoen passasiers hanteer het.
Nuus uit die buiteland:
# Twee verdagtes is aangekeer vir die poging om twee bomme te laat ontplof voor Gracie Mansion, waar New York se burgemeester, Zohran Mamdani, woon. Hulle is aangekla van federale terreurmisdade. Die voorval het plaasgevind tydens ‘n teen-Moslem-betoging, gelei deur die verregse aktivis Jake Lang. Die Amerikaanse stad se polisiekommissaris, Jessica Tisch, sê die 18-jarige Emir Balat en die 19-jarige Ibrahim Kayumi het in die openbaar trou gesweer aan ISIS:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is deur na die ronde van 16 op die Indian Wells-meesterstoernooi in Amerika. Die Spanjaard het die 26ste-gekeurde Fransman Arthur Rinderknech in drie stelle geklop en speel volgende teen die 13de-gekeurde Noorweër Casper Ruud. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, speel teen die ongekeurde Joao Fonseca vir ‘n plek in die kwarteindronde nadat hy met Denis Shapovalov van Kanada afgereken het. Die Amerikaners Taylor Fritz en Tommy Paul is albei in die ronde van 32 uitgeskakel, terwyl hul landgenoot Frances Tiafoe deurgedring het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-109-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-182-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….