Nuus 13:00
BULLETIN 2 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskepingsondernemings herlei hul skepe om die Kaap ná die aanvalle op Iran
# Die Gautengse regering neem die einde van die maand volle eienaarskap van die Gautrein oor
# En krieket: Die T20-Wêreldbekertoernooi se halfeindstryde is bevestig met Suid-Afrika wat teen Nieu-Seeland te staan kom
# Die verskepingsondernemings Maersk, Hapag-Lloyd en CMA CGM herlei skepe om Afrika, weg van die Suez-kanaal en die Seestraat van Bab el-Mandeb ná Amerikaanse en Israelse aanvalle op Iran en die sluiting van die Seestraat van Hormuz. Die Deense houerverskepingsgroep Maersk sê die onderneming het weens die verslegtende veiligheidsituasie in die Midde-Ooste besluit om toekomstige Trans-Suez-vaarte te staak. Die Duitse verskepingsgroep Hapag-Lloyd sê hul IMX-houerdiens, wat Indië en die Midde-Ooste met die Middellandse See verbind, word ook om Suider-Afrika herlei.
Intussen sê die Amerikaanse president, Donald Trump, ‘n Iranse regime gewapen met langafstandmissiele en kernwapens hou ‘n ernstige bedreiging vir alle Amerikaners in. Dit volg terwyl Iran se vergelding toeneem nadat die land se opperleier, ajatolla Ali Khamenei, Saterdag dood is in Amerikaans-Israelse aanvalle. Drie Amerikaanse Weermaglede is ook dood tydens Operasie ‘Epic Fury‘, en vyf is ernstig gewond. Trump sê Iran verwerp all geleenthede om sy kerndoelwitte te laat vaar:
# Die sakeman Brown Mogotsi is skuldig aan minagting van die Madlanga-kommissie nadat hy versuim het om te verskyn. Die kommissie ondersoek beweerde politieke inmenging in die regstelsel. Brown het gesê hy is siek en beloof om ‘n siekbrief in te dien. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het beslis dat Brown die kommissie geminag het. Hy sê hulle sal Woensdag finaal daaroor beslis voor die hoof van Georganiseerde Misdaad, Richard Shibiri, begin getuig:
# Die LUR vir Finansies, Lebogang Maile het bevestig die Gautengse regering sal teen einde Maart volle eienaarskap van die Gautrein-hoëspoed-spoorwegstelsel oorneem. Die Gautrein, wat reeds 16 jaar bestaan, is oorspronklik deur ‘n openbare-privaat vennootskap ontwikkel en is nou ‘n ten volle betaalde provinsiale bate. Maile sê die waarde van die stelsel het gegroei van 26-miljard-rand tot tussen 45- en 53-miljard-rand. Hy sê daar is voortgesette uitbreidingsplanne en die voorkeurbieër vir die nuwe konsessie word binnekort aangekondig.
# Krieket: Die halfeindstryde van die T20-Wêreldbekertoernooi is nou bevestig. Die naaswenner van 2024, Suid-Afrika, kom Woensdag in Kolkata, Indië, teen Nieu-Seeland te staan in die eerste halfeindstryd. Die Proteas is die enigste onoorwonne span in die toernooi. Die verdedigende kampioen en mede-gasheerland, Indië, pak Engeland Donderdag in die tweede halfeindstryd in Mumbai. Die twee lande het ook in die vorige twee toernooie in die halfeindrondes teen mekaar gespeel. Die eindstryd word Sondag op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad beslis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-423-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-392-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….