Nuus 13:00
BULLETIN 28 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ekapa-myn begin vandag met die herwinning van vyf mynwerkers se liggame
# Die vloedskade in die Krugerwildtuin nader 600-miljoen-rand
# En krieket: Die Protea-vroue kom môre teen Pakistan te staan in die laaste eendagwedstryd in Durban
# Ekapa se Du Toitspan Joint Shaft-diamantmyn in Kimberley, Noord-Kaap, het vandag met pogings begin om die liggame van vyf mynwerkers te herwin wat 890-meter ondergronds vasgekeer is na verlede week se modderstorting. Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het die myn besoek en sê die drooglegging is voltooi en spanne begin puin opruim. Hy sê daar moet harder probeer word om die myn te red en en die likwidasieplanne wat ‘n duisend werkers te midde van ‘n ramp raak, gekritiseer. Hy het die optrede as in kwade trou bestempel:
# Die Azanian People’s Organisation het die Departement van Landbou gewaarsku oor sy trae benadering tot die bek-en-klouseer-uitbreking. AZAPO neem kennis dat een-miljoen dosisse toegeken is, maar bestaans-, suiwel- en beesboere bly in gevaar. Die organisasie doen ‘n beroep op minister John Steenhuisen om die taakspan te verbreed, streng beheer oor die beweging van vee in te stel en deursigtige, doeltreffende gebruik van fondse te verseker om boere te beskerm en vee landwyd te bewaar. Steenhuisen het vandag by ‘n massa-inentingsveldtog in KwaZulu-Natal aangesluit in ‘n poging om die verspreiding van die siekte te bekamp.
# Die eienaar van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy, Calvin Mathibeli, is deur die Hooggeregshof in Durban gelas om verklarings teen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, terug te trek. Mathibeli het hom beskuldig van korrupsie, magsmisbruik, intimidasie, die neem van beskermingsfooie van taxi-eienaars en onwettige gedrag. Mathibeli het 60 dae om mediaplatforms waar die bewerings geplaas was, te nader en terugtrekkings te plaas. Die uitspraak volg op ‘n lastersaak wat deur Mkhwanazi aanhangig gemaak is, waarin hy aanvoer sy reputasie en dié van die KZN-polisie word skade berokken.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê oorstromings by die Krugerwildtuin in Mpumalanga het volgens opnames skade veroorsaak wat na raming tussen 500- en 600-miljoen-rand beloop. ‘n Lugopname het aanvanklik verliese op 650-miljoen-rand geraam, met bevestigde infrastruktuurskade wat nou op ongeveer 490-miljoen-rand staan. Aucamp waarsku teen toerisme-inkomsteverliese van etlike miljoene rand aangesien verskeie kampe gesluit bly:
# En laastens sportnuus:
# Sokker: Banyana Banyana is deur na die 2025 COSAFA Vrouekampioenskap-finaal nadat hulle Zimbabwe met 4-2 met strafskoppe in Polokwane verslaan het. Die wedstryd het op een elk in die toegelate tyd geëindig, met Nthabiseng Majiya wat Ethel Chinyerere se vroeë doel gelyk gemaak het. Doelwagter Casey Gordon was die held en het twee strafskoppe gered om Suid-Afrika se oorwinning te verseker. In die ander halfeindstryd het Namibië die verdedigende kampioene, Zambië, met 1-0 uitgestof. Banyana Banyana sal nou teen Namibië in môre se eindstryd vir die streekstitel te staan kom.
# En krieket: Die Protea-vroue en Pakistan meet môre kragte in Durban in die derde en laaste eendagwedstryd in die reeks wat reeds deur Suid-Afrika beklink is. Die Proteas het die eerste twee wedstryde in Bloemfontein en toe in Centurion gewen. Dit gasvroue het die T20-reeks met 2-1 gewen. Na môre reis die Proteas na Nieu-Seeland vir vyf T20’s en drie eendagwedstryde vanaf 15 Maart tot 4 April. Die toer is die finale voorbereiding vir die T20 Wêreldbeker in Engeland, wat in Junie begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….