Nuus 13:00
BULLETIN 25 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe hervat bedrywighede ná ‘n brand
# Die VN wil alle diplomatieke hulpmiddels inspan om die Russies-Oekraïense oorlog te beëindig
# En krieket: Nieu-Seeland besef hy moet aanpas by die stadiger kolfblaaie in Colombo
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe sê bedrywighede keer terug na normaal ná gister se brand in die internasionale saal. Die brand is vinnig geblus en geen beserings is aangemeld nie. Sekere internasionale aankomste en bagasie word steeds per hand verwerk. Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika se woordvoerder, Ofentse Dijoe, versoek reisigers om hul vlugstatus na te gaan en die tydelike Ontmoet- en Groetgebied te gebruik terwyl die lughawe sy veiligheidsbeoordeling afhandel:
# Die waarnemende adjunk- uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges, Keitumetse Sesana, spoor Suid-Afrikaners aan om voor te berei vir nuwe belastingbeleidsmaatreëls voor die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vanmiddag sy begroting lewer. Sesana het aan Newzroom Afrika gesê die Inkomstediens se verbeterde invorderings en uitgebreide handhawing kan die belastinggaping verklein. Sy het ook beklemtoon die Nasionale Tesourie se aansporings en ondersteuning kan die druk verlig op belastingbetalers wat voldoen:
# Die Vryemarkstigting waarsku dat Suid-Afrika ryk mense en opgeleide beroepslui verloor terwyl die Verenigde Arabiese Emirate voortgaan om wêreldwyd talent en belegging te lok. Brian Benfield van die stigting sê die V-A-E se gunstige markbeleide, lae belastings, betroubare infrastruktuur en veilige omgewing verskil skerp van Suid-Afrika se regeringsprobleme, hoë misdaadvlakke en vervalle infrastruktuur. Hy sê indien die land hierdie uittog wil omkeer en meeding met lande soos die V-A-E, moet hy met ernstige en buitengewone hervorming begin.
# Die Verenigde Nasies sê die internasionale gemeenskap moet alle moontlike diplomatieke hulpmiddels inspan om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Meer as 15-duisend burgerlikes is dood en meer as 41-duisend mense beseer sedert Rusland se aanval vier jaar gelede, terwyl miljoene hul huise moes ontruim. Die onder-sekretaris-generaal vir Politieke en Vredes-aangeleenthede, Rosemary DiCarlo, beklemtoon die behoefte aan tasbare maatreëls om die vyandighede te verminder en ruimte te skep vir diplomasie:
# Krieket: Nieu-Seeland se kaptein, Mitchell Santner, sê die sleutel tot sukses in vandag se Super-agt-kragmeting met Sri Lanka in die T20-Wêreldbekertoernooi is om by Colombo se stadiger kolfblad aan te pas. Die Swartpette benodig dringend ‘n oorwinning nadat hul eerste Super-agt-wedstryd teen Pakistan op dieselfde stadion uitgereën het. Santner sê hulle het tydens die groepfase op kolwervriendelike blaaie in Indië gespeel, maar hy glo hulle het nou die draai-moontlikhede gedek. Sri Lanka is ook onder druk nadat hy sy eerste Super-agt-botsing teen Engeland verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-521-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….