Nuus 13:00
BULLETIN 19 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige ambassadeur dring aan dat terugkerendes uit Rusland met die polisie moet saamwerk
# Shadrack Sibiya betwis bewerings van ‘n magstryd onder senior polisie-offisiere
# En tennis: Paula Badosa is ongelukkig oor aanlyn mishandeling nadat sy aan die Dubaise Kampioenskap onttrek
# Die voormalige ambassadeur Kingsley Makhubela sê vier Suid-Afrikaanse mans wat van Rusland teruggekeer het, moet hulle volle samewerking vir die polisie gee oor hul werwing en beweerde betrokkenheid by die konflik tussen Rusland en Oekraïne. Hulle het gister teruggekeer. Makhubela het aan SABC News gesê owerhede moet enige betalings opspoor wat gemaak is, aangesien geld ‘n papierspoor laat. Hy waarsku dat buitelandse militêre opleiding ernstige nasionale veiligheidsgevare inhou:
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, verwerp bewerings van ‘n magstryd in senior leierskap. Hy getuig voor die Madlanga-kommissie wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. Sibiya weerspreek bewerings deur die nasionale kommissaris, Fannie Masemola, dat sy ingryping in sekere dossiere onvanpas was. Hy glo as hoof van misdaadopsporing is hy aanspreeklik vir sake se teikens en sê sy optrede was beleidsgerig:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap hoop Joshlin Smith sal eendag gevind word. Die meisie was ses toe sy in Februarie 2024 uit haar ouerhuis in Saldanhabaai verdwyn het. Haar ma en twee mans is skuldig bevind aan mensehandel en ontvoering. Woordvoerder Ricardo van der Merwe sê hulle het niks gedoen om haar te help opspoor nie en hul voortgesette stilswye dra by tot die familie se diepe hartseer:
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige Suid-Koreaanse president, Yoon Suk Yeol, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ‘n opstand gelei het. Die kortstondige instelling van krygswet in Desember 2024 het die land in politieke chaos gedompel ná sy bewings oor teen-staatsmagte in opposisiepartye wat simpatie teenoor Noord-Korea toon. Die voormalige minister van Verdediging, Kim Yong-hyun, is ook skuldig bevind op dieselfde aanklag en tot 30-jaar tronkstraf gevonnis. Vier ander, insluitend Seoel se voormalige polisiehoof, Kim Bong-sik, is ook tronkstraf opgelê.
# Tennis: Die Spanjaard Paula Badosa is ongelukkig oor aanlyn mishandeling nadat sy aan die Dubaise Kampioenskap moes onttrek. Die 28-jarige het weens aanhoudende beserings teruggesak van tweede op die wêreldranglys in April 2022 na haar huidige 70ste plek. Badosa het die eerste stel teen Elina Svitolina van Oekraïne verloor voor sy weens ‘n besering moes onttrek. Sy het reageer op ‘n beskuldiging op sosiale media dat sy die spel nie eerbiedig nie en sê sy kies steeds om voort te gaan ondanks ‘n chroniese besering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-979-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-13-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….