Nuus 13:00
BULLETIN 22 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Werknemers van De Beers se Venetia-diamantmyn vrees werkverliese
# ‘n Organisasie sê die vertraging in geregtigheid benadeel die slagoffer in die Iain Wares-saak
# En atletiek: Bayanda Walaza is nou die vierde vinnigste Suid-Afrikaner ooit
# Werknemers van De Beers se Venetia-myn in Alldays, Limpopo, is bekommerd oor moontlike werkverliese nadat die onderneming besluit het om produksie vir twee jaar op te skort. Die stap stel meer as een-duisend-200 werksgeleenthede in gevaar in die grootste diamantmyn in Suid-Afrika. Sekere werknemers het reeds Artikel 189A-kennisgewings ontvang, wat tot afleggings kan lei. De Beers sê die tydelike opskorting van produksie sal sy ondergrondse uitbreidingsprojek ondersteun en reageer op die swak wêreldvraag na natuurlike diamante.
# Women and Men Against Child Abuse sê herhaalde vertragings met die vonnisoplegging van die veroordeelde pedofiel, Iain Wares, ontsê sy slagoffer geregtigheid. Die voormalige onderwyser aan Rondebosch Boys Primary in Kaapstad is skuldig bevind in ‘n geskiedkundige saak van seksuele misbruik meer as drie dekades gelede teenoor ‘n leerder, wat destyds 12-jaar-oud was. Die organisasie se woordvoerder, Claudine Shiels sê dis noodsaaklik vir dié hoëprofielsaak om afgehandel te word sodat geregtigheid geskied en aanspreeklikheid gehandhaaf word.
# Forum for South Africa verwelkom die ondersoek na die strafregstelsel se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord. Die ondersoek deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Menseregtekommissie en die Kommissie vir die Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe wil ingewortelde swakhede in die aanmelding-, ondersoek- en slagofferondersteuningsprosesse identifiseer. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dit bied ‘n belangrike geleentheid om tekortkominge in die strafregstelsel te ontbloot:
# AfriForum vra die polisie vir terugvoering oor die ondersoek na die voormalige Johannesburgse burgemeester, Thapelo Amad, se roekelose hantering van ‘n vuurwapen. Hy verskyn na bewering in ‘n video waarin hy in April vanjaar ‘n vuurwapen in die openbaar afvuur. Jacques Broodryk van AfriForum sê hulle het ‘n strafregtelike klagte ingedien rakende oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer. Hy sê daar was nog geen betekenisvolle vordering met die ondersoek nie:
# Atletiek: Die twintigjarige Bayanda Walaza het die vierde vinnigste Suid-Afrikaner ooit geword toe hy die mans 100-meter gewen het op ‘n byeenkoms in Slowakye. Hy het die wenstreep in 9,89 sekondes oorgesteek, sy beste persoonlike tyd en ‘n byeenkoms-rekord. Dit plaas hom na Akani Simbine, Benjamin Richardson en Gift Leotlela. Ackeem Blake van Jamaika was tweede en die Kanadees Andre de Grasse derde. Twaalf Suid-Afrikaners, insluitend Wayde van Niekerk, het die 100-meter nou al onder tien sekondes afgeblits.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-954-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….