Nuus 13:00
BULLETIN 11 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan ontken bewerings van infiltrasie by OPOD
# Suid-Afrika meld ‘n daling van 16-persent in renosterstropery in 2025 aan
# En rugby: Ierland se prestasiedirekteur verwag sy span sal weer sy staal wys teen Italië
# Die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, ontken bewerings dat hy die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat geïnfiltreer het. Hy getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. O’Sullivan sê hy het in 2016 ‘n saak teen die voormalige waarnemende polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, ingedien oor beweerde korrupsie, geldwassery en afpersing. Hy bevestig hy het tot 2018 met OPOD te doene gehad maar noem infiltrasie-bewerings ‘n blatante leuen:
# Suid-Afrika het verlede jaar ‘n afname van 16-persent in renosterstropery aangeteken – ‘n tweede agtereenvolgende jaarlikse daling. Die Ministerie van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê 352 renosters is verlede jaar doodgemaak teenoor 420 in 2024. Stropery in die Krugerwildtuin het egter skerp gestyg, van 88 tot 175. Die Hluhluwe-iMfolozi-park in KwaZulu-Natal het ‘n beduidende verbetering ervaar, met stropery wat tot 63 gedaal het. Minister Willie Aucamp skryf dit toe aan versterkte teenstropings- en -smokkelbedrywighede en beter koördinering tussen wetstoepassingsagentskappe.
# Die Stad Tshwane sê die Bronkhorstspruit-watersuiwerings-aanleg sukkel weens hoë verbruik om voldoende te herstel. Die aanleg verskaf water aan die Bronkhorstspruit-, die Zithobeni- en die Ekandustria-reservoir, sowel as die Zithobeni-toring. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê ‘n 50/50-verspreiding van die aanleg is nou ingestel terwyl tegnici voortgaan om reservoirvlakke en die stelsel se werking te monitor:
# Rugby: Ierland se prestasiedirekteur, David Humphreys, verwag sy span sal terugslaan in Saterdag se Sesnasies-kragmeting met Italië in Dublin. Die Iere het verlede naweek in die eerste ronde 36-14 verloor teen die verdedigende kampioen, Frankryk, in Parys, terwyl die Azzuri vol selfvertroue is na hulle Skotland geklop het. Humphreys sê hulle het nie goed gespeel op die Stade de France nie, maar wat goed is van die kompetisie is dat hulle die volgende vyf weke nog kans kry om werklik te wys waartoe Ierse rugby in staat is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-815-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-52-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Vermetele bende gemaskerde rowers wat hulle voorgedoen het as polisiebeamptes, het oop en bloot ‘n transitovoertuig op ‘n besige snelweg in Italië opgeblaas. Verskeie mense het die voorval opgeneem, waarna dit wyd op sosiale media rondgestuur is. Beeldmateriaal wys swaar-gewapende mans wat agter geparkeerde motors wegkruip wanneer die kontantwa ontplof. Die verkeer het reeds tot stilstand gekom toe hulle ‘n ander vragmotor aan die brand gesteek en voertuie met flikkerende ligte gebruik het om voor te gee dat hulle polisielede is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….