Nuus 13:00
BULLETIN 6 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie stel Suleiman Carrim se getuienis tot Maart uit
# Kenners waarsku oor omgewingsgevare by die Lily-myn
# En rugby: Ierland se afrigter bevraagteken sy span se veggees en intensiteit teen Frankryk
# Die Madlanga-kommissie het die ANC-gekoppelde sakeman Suleiman Carrim se getuienis tot volgende maand uitgestel. Hy sou vandag getuig nadat die Hooggeregshof in Pretoria sy aansoek geweier het om sy dagvaarding ter syde te stel en hom gekritiseer het omdat hy daarmee gesloer het. Hy word betrek by omkoopgeld rondom ‘n polisie-tender van 360-miljoen-rand. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het Carrim se regspan beveel om teen vroeg volgende maand ‘n verklaring in te dien:
# Mynkundiges het ‘n waarskuwing gerig oor die ineengestorte Lily-goudmyn naby Barberton in Mpumalanga. Die uitvoerende hoof van Lions Bay Resources, Lloyd Birrell, waarsku ondergrondse oorstromings kan die water se chemiese samestelling drasties verander. Dit kan baie suur of alkalies word en skadelike metale soos arseen en mangaan oplos. Hy sê dit beïnvloed plaaslike gemeenskappe en ontneem hulle van veilige drinkwater. Birrell beklemtoon hierdie beduidende omgewingsgevare moet eers aangepak word voor enige planne om die myn te heropen, om verdere skade te voorkom aan mense, die landbou en stroom-af-ekostelsels.
# COSATU verwelkom Suid-Afrika se volle toetrede tot die Afrika-invoer-en-uitvoerbank. Die vakverbond sê dit sal die land se handels- en ontwikkelingsgeleenthede in Afrika versterk. Woordvoerder Matthew Parks prys die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se onvermoeide pogings om hierdie waardevolle sukses te verseker ter wille van die land se ekonomiese groei. Hy vra die regering en ondernemings om die lidmaatskap tot voordeel van werkers en gemeenskappe te gebruik:
# Die besturende direkteur van die Volkswagen Groep Afrika, Martina Biene, het president Cyril Ramaphosa gevra vir daadwerklike besluitneming oor beleide ten einde die beleërde plaaslike motorvervaardigingsbedryf te beskerm. Biene het op Volkswagen se jaarlikse produk-indaba in Kariega in die Oos-Kaap gesê hoewel toenemende invoere uit China en Indië en die Amerikaanse invoerbelastingverhogings bydraende faktore is, is sy steeds vol vertroue dringende verbetering in vervaardigingsbeleide sal ‘n verskil maak. Sy sê die beleidsraamwerk moet groter mededingende vervaardiging van nuwe energievoertuie toelaat.
# Rugby: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, het sy span se veggees bevraagteken in hulle Sesnasies-openingswedstryd teen die verdedigende kampioen, Frankryk, gisteraand in Parys. Ierland het met 36-14 verloor. Farrell verwys na die gebrek aan intensiteit in die eerste helfte, verbroude duikslae en die verlore stryd op die grond en in die lug, en sê ‘n span kan nie toetse wen met so ‘n benadering nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-360-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-856-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….