Nuus 13:00
BULLETIN 21 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie Hoofstuk 9-instellings begin ‘n ondersoek na die strafregstelsel se reaksie op geslagsgeweld
# Goeie oeste laat vrugtepryse daal
# En sokker: Twee-miljoen ondersteuners vier Spanje se Wêreldbeker-oorwinning in Madrid
# Drie Hoofstuk 9-instellings het ‘n gesamentlike ondersoek begin na die strafregstelsel se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Menseregtekommissie en die Kommissie vir Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte sê die ondersoek wil swakhede in die aanmelding-, ondersoek- en slagofferondersteuningsposesse identifiseer. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid se woordvoerder, Javu Baloyi, sê die eerste fase sal fokus op oorlewendes se ervarings en die regstelsel se funksionering voor sake hof toe gaan:
# Forum for South Africa verwelkom die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, se besluit om ondersoek in te stel na ses-duisend-238 staatshuise wat aan staatsdepartemente toegeken is en deur staatsamptenare bewoon word. Die departement raam 39,6-miljoen-rand is in die vorige boekjaar uit sy begroting vir daaglikse instandhouding bestee aan slegs 108 van dié eiendomme. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê elke staatseiendom moet ‘n duidelike openbare doel dien:
# Suid-Afrikaanse verbruikers vind baat by laer pryse vir varsprodukte, met vrugtepryse wat in Mei met 8,5-persent op ‘n jaargrondslag gedaal het. Die Pietermaritzburgse Ekonomiese Geregtigheid- en Bekostigbaarheids-aanwyser toon dat lemoenpryse op ‘n maandgrondslag met 21-persent gedaal het, saam met piesang- en avokado-pryse. Die hoofekonoom van die Landbousakekamer, Wandile Sihlobo, sê goeie vrugte-, groente- en graanoeste het voorrade ‘n hupstoot gegee, wat tot laer pryse gelei het. Hy sê die verhoogde opbrengste het bygedra tot deflasie in vrugte- en groentepryse.
Nuus uit die buiteland:
# Die ministers van Buitelandse Sake in die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies is bekommerd oor hernude vyandelikhede tussen Amerika en Iran. Asiatiese lande is die swaarste getref deur Iran se sluiting van die Seestraat van Hormoes, ‘n belangrike seevaartroete vir die vervoer van sowat 60-persent van die streek se energievoorrade. Die vereniging sê die hernude gevegte hou verdere gevolge in vir die streek se handel-, energie- en voedselsekerheid, veral die bestendigheid van landbouvoorsieningskettings. Hy sê die jongste verwikkelinge verminder die vooruitsigte op ‘n vreedsame oplossing.
# Sokker: ‘n Geraamde twee-miljoen mense het die nuutgekroonde wêreldkampioen, Spanje, se vierings in Madrid bygewoon. Die spelers het die trofee en hulle goue medaljes vanaf ‘n oopdak-bus vertoon aan ‘n see van rooi- en geel-geklede ondersteuners onderweg na Cibeles-plein. Daar is hulle en hoofafrigter Luis de la Fuentes een vir een voorgestel, elk met sy eie liedjie en in hemde met die woorde “Ons is die kampioene”. Koning Felipe en eerste minister Pedro Sanchez het die groep ontmoet voor die parade begin het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-146-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-67-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………..