Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pandor vergader met die hoofaanklaer van die Internasionale Geregshof voor die uitspraak in die volksmoordsaak teen Israel
# AfriForum dien ‘n klagte by die Openbare Beskermer in oor beweerde korrupsie by NSFAS
# En, tennis: Jannik Sinner skok Novak Djokovic en is deur na sy eerste Grand Slam-eindstryd
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het tydens ‘n amptelike besoek aan die hof met die Internasionale Geregshof se hoofaanklaer vergader. Die hof lewer vandag uitspraak oor Suid-Afrika se versoek vir noodmaatreëls teen Israel, wat hy van volksmoord in Gaza beskuldig. Die beslissing sal nie die hoofbeskuldiging van volksmoord hanteer nie. Die departement se woordvoerder, Clayson Monyela, sê Suid-Afrika glo Israel het die Volksmoordkonvensie oortree:
# AfriForum het ‘n formele klagte by die Openbare Beskermer se kantoor ingedien oor bewerings van korrupsie waarby die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, betrokke is. Die Organisasie teen Belastingmisbruik het hulle beskuldig van bedrog in die vorm van terugbetalings vanaf diensverskaffers. Charné Mostert van AfriForum sê korrupte amptenare moet die gevolge van hul dade dra:
# Trots Suid-Afrikaans vra die publiek om plaaslik vervaardigde goedere voorop te stel vir werkskepping, en onderstreep die nadelige uitwerking van ingevoerde items op ekonomiese groei. Die uitvoerende hoof, Eustace Mashimbye, beklemtoon hoe belangrik dit is om plaaslike ondernemings te onderhou om werksgeleenthede te behou en tot die bruto binnelandse produk by te dra. Bevindings van ‘n opdragstudie toon ‘n belegging van 10-persent in die privaat sektor in die landbouverwerking-, meubel- en motorsektore kan tot 76-duisend nuwe werksgeleenthede skep. Mashimbye vra die instel van sektorspesifieke oplossings om plaaslike vervaardiging te bevorder.
# Rwanda beskuldig Burundi se president, Évariste Ndayishimiye, van pogings om ‘n jeugopstand teen president Paul Kagame aan te vuur tydens die inhuldiging van die president van die Demokratiese Republiek van die Kongo, Felix Tshisekedi. Rwanda veroordeel die beweerde opruiende uitsprake en noem dit ‘n skending van die Afrika-unie-handves. Intussen ontken Rwanda alle belangstelling in konflik met sy bure, en beloof ‘n verbintenis tot streeksbestendigheid. Burundi het voorheen sy grens met Rwanda gesluit oor die beskuldiging hy ondersteun die RED Tabara-rebellegroep vanuit die ooste van die DRK.
# Tennis: Jannik Sinner is deur na die eerste eindstryd van ʼn Grand Slam-toernooi nadat hy die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, in die halfeindstryd van die Australiese Ope verslaan het. Die 22-jarige het die Serwiër met 6-1, 6-2, 6-7, 6-3 geklop in Melbourne. Sinner kan tot nommer drie opskuif indien hy Sondag sy eerste Grand Slam-titel wen en Daniil Medvedev teen Alexander Zverev verloor in die ander halfendstryd. Sinner sê hy het geglo hy kan die wêreld nommer een klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-165-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-19-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….