Nuus 13:00
BULLETIN 5 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sakeman Suliman Carrim moet voor die Madlanga-kommissie verskyn
# ‘n Politieke ontleder sê die DA sukkel om steun te werf ondanks Steenhuisen se uittrede
# En sokker: Marokko gaan teen CAF se beslissings appelleer na chaos tydens die Afrikabeker-eindstryd
# Die Hooggeregshof in Pretoria het gelas die ANC-gekoppelde sakeman, Suliman Carrim, moet voor die Madlanga-kommissie verskyn, en sy dringende aansoek teen sy dagvaarding van die rol geskrap. Hy wou sy klassifikasie as getuie laat hersien en voer aan hy is sonder ‘n behoorlike proses behandel as ‘n persoon wat betrek is. Getuienis het Carrim verbind aan die beweerde misbruik van sy politieke invloed en twyfelagtige polisie-verkrygingsbetalings. Regter Denise Fisher het geen rede gevind om sy verskyning te verbied nie en hy moet môre getuig.
# Die politieke ontleder Harald Pakendorf sê die DA sukkel om sy steunbasis te laat groei, ondanks John Steenhuisen se bedanking as partyleier. Pakendorf het aan Newzroom Afrika gesê Steenhuisen se versigtige antwoorde dui op interne druk in die party. Hy waarsku onlangse omstredenheid het skade berokken aan die DA se beeld, en voeg by onsekerheid oor leierskap kan die party benadeel in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing:
# FNB sê die onlangse brandstofprysverlaging, ondersteun deur ‘n sterker rand en laer internasionale oliepryse, sal kostedruk vir boere verlig. Dieselpryse het met tot 57-sent per liter gedaal, terwyl die prys van albei grade petrol met 65-sent per liter gedaal het, en verlig een van die grootste kostedrukpunte in plant, oes en plaaslogistiek. Koketso Mano van die bank sê die laer koste kan help om plaaswinsgewendheid te verbeter:
# Inwoners van Kaapstad word weereens aangemoedig om water te bespaar aangesien verbruik op byna ‘n miljard-liter per dag staan, wat die stad se doelwit oorskry. Damvlakke is op 60-persent en sal na verwagting tot die volgende reënseisoen hou. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê daar is geen onmiddellike bedreiging vir watersekerheid nie, maar om water nou te bespaar, kan toekomstige beperkings voorkom:
# Sokker: Marokko se beheerliggaam gaan appelleer teen dissiplinêre sanksies wat die Afrika-liggaam CAF hom opgelê het na verlede maand se chaotiese Afrikabeker-eindstryd teen Senegal. Die gasheer het in bykomende tyd 1-0 verloor nadat Senegal 14-minute lank van die veld gestap het, asook ‘n ontoelaatbare doel en onwettige veldbetredings. CAF het Marokko met vyf-miljoen-rand beboet en spelers, insluitend Achraf Hakimi, vir wedstryde geskors. Die federasie het die sanksies as oneweredig bestempel, terwyl CAF volhou dit sal van krag bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-512-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-882-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….