Nuus 13:00
BULLETIN 4 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen tree uit as die leier van die DA
# TLU SA kritiseer president Cyril Ramaphosa op die vooraand van sy staatsrede
# En Olimpiese Spele: ‘n Spaanse sierskaatser is verpletter ná ‘n verbod om die temamusiek van Minions te gebruik
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, gaan hom nie verkiesbaar stel vir ‘n derde termyn om die party te lei nie. Sy aankondiging in KwaZulu-Natal kom voor vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing. Steenhuisen het beklemtoon hy bly aan as minister van Landbou. Hy sal die leisels in April aan ‘n nuwe leier oorhandig en sê hy laat die party sterker in die regering agter. Steenhuisen sê sy leierskapsending is afgehandel en die DA is gerig op toekomstige groei:
# Die landbou-organisasie TLU SA het president Cyril Ramaphosa gekritiseer op die vooraand van volgende Donderdag se staatsrede en sê sy herhaalde beloftes het misluk om ekonomiese groei, werkgeleenthede en bestendigheid te lewer. Bennie van Zyl van die TLU sê planne wat verlede jaar aangekondig is, insluitend infrastruktuurbelegging en hervorming van staatsondernemings, het min verandering teweeggebring. Hy vra eerlike verantwoordbaarheid, besliste hervormings en beleide wat belegging en werkskepping ondersteun:
# Die Mpact-groep oorweeg dit om sy papiermeule in Springs aan die Gautengse Oos-Rand te sluit na dekades in bedryf. Die raad het aangekondig dat hulle die aanvang van ‘n afleggingsproses goedgekeur het, hangende die meule se sluiting. Die fabriek is die enigste plaaslike vervaardiger van karton en het tans 377 mense in diens. Die meule se grootste klante kan tans karton invoer teen ongeveer 20-persent goedkoper as die meule se produksiekoste weens ‘n aansienlike oor-aanbod in die wêreldwye kartonmark en die huidige waarde van die rand.
# Die George-munisipaliteit se raad het die versoek goedgekeur om die munisipale gebied tot ‘n plaaslike rampgebied te klassifiseer as gevolg van ernstige wateruitdagings en die huidige droogtetoestande. Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum sal nou ‘n formele evaluering doen. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die stad se hoofwaterbron, die Tuinroetedam, se vlak was op 26 Januarie 44,7-persent, ‘n skerp afname van die 87,87-persent ‘n jaar gelede:
# Olimpiese Spele: Die Spaanse sierskaatser Tomas Sabate se voorbereidings vir die Milano-Cortina-Winterspele in Italië is belemmer omdat hy nie die regte kon bekom om op die maat van sy gunstelingsnit uit die rolprentreeks Minions te skaats nie. Die 26-jarige, bekend vir sy eksentrieke skaatsroetine, sê hy is ongelooflik teleurgesteld, maar kopieregprobleme verhoed hom om die liedjie te gebruik. Sabate sê hy gebruik die liedjie om vreugde en ‘n speelse styl na die sport te bring en hy dra selfs die karakters se geel en blou klere.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-157-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-62-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….