Nuus 13:00
BULLETIN 3 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Bester betwis sy oorplasing na ‘n super-maksimum-gevangenis in Kokstad
# Ramaphosa sê die regering is besig met die versterking van die Vertroude Toeroperateurskema
# En Olimpiese Spele: Japan hoop om te verbeter op sy 18 medaljes op die Winterspele
# Die veroordeelde moordenaar, Thabo Bester, gaan sy oorplasing van die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria na die eBongweni super-maksimum-gevangenis in Kokstad, KwaZulu-Natal, betwis. Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê die stap is as gevolg van veiligheids- en sekerheidskwessies en vorm deel van roetine-gevangene-oorplasings. Bester voer aan die afstand belemmer toegang tot sy regspan. Korrektiewe Dienste het bevestig gesprekke is tans aan die gang met sy regsverteenwoordigers.
# Die Pretoriase Landdroshof gaan môre ‘n formele borgtogaansoek oorweeg van twee BBP-beskermingsbeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n sersant van die Suid-Afrikaanse Lugmag, Michael Swanton, vermoor het. Thabang Sohole en Michael Makampa het gister in die hof verskyn. Die streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die beamptes, wat toegewys is aan die burgemeester van die Madibeng-munisipaliteit, Douglas Maimane, staan tereg op aanklagte van moord en regsverydeling:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is besig met die versterking van die Vertroude Toeroperateurskema wat verlede jaar van stapel gestuur is. Die skema stroomlyn visumprosesse vir groepe wie se aansoeke deur gekeurde toeroperateurs ingedien word. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief ‘n beduidende aantal toeriste van sleutelmarkte soos Indië en China gebruik reeds groeptoeroperateurs vir ‘n meer gestruktureerde, pasgemaakte reiservaring. Hy voeg by dat die behoud van die land se reputasie as ‘n voorkeur-toerismebestemming ‘n poging van die hele samelewing moet wees.
# Olimpiese Spele: Japan hoop om sy vorige rekord van 18 medaljes te verbeter wanneer die Olimpiese Winterspele vanaf Vrydag in Noord-Italië plaasvind. Japan was vier jaar gelede die top Asiatiese land in Beijing en mik na meer sukses in items soos kunsskaats, sneeuplankry, spoedskaats en ski-spronge. Japan se Olimpiese spanhoof, Hidehito Ito, glo goeie uitslae sal volg as die atlete op hul beste presteer. Japan het 120 deelnemers wat aan die Milaan-Cortina-Spele deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-972-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-902-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC het sy diepste meegevoel betuig aan die gesin, vriende en kamerade van Leon Levy, wat in die ouderdom van 96 gesterf het, en beskryf hom as ‘n uitstaande veteraan van die bevrydingstryd. Woordvoerder Mahlengi Bhengu sê hy was die laaste oorlewende ondertekenaar van die Vryheidsmanifes en beskuldigde nommer vier in die hoogverraad-saak van 1956, ‘n oomblik in die geskiedenis wat simbolies is van die apartheidstaat se poging om die onderdrukte meerderheid se poging tot opheffing te kriminaliseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….