Nuus 13:00
BULLETIN 26 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christen-forum sê die ANC se mislukte beleidsinstelling eis lewens
# Minstens 11 mense sterf weens ‘n erge winterstorm in Amerika
# En Amerikaanse voetbal: Die Seattle Seahawks en die Patriots spook sake uit in die Super Bowl
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christen-forum sê die ANC se bestuur word gekenmerk deur aansienlike probleme met die instelling van beleide. Die forum se leier, Marothi Mashashane, sê dit het veral betrekking op die billike beskikbaarstelling van onderwys, wat ernstige gevolge inhou vir leerders in landelike gebiede. Hy sê voortslepende kwessies soos swak skoolinfrastruktuur, gebrek aan behoorlike sanitasie en onvoldoende vervoer plaas leerders in gevaar:
Intussen vra die onderwysaktivis Hendrick Makaneta die regering en die Departement van Vervoer en Paaie om vinnig op te tree ten einde veiligheid en verantwoordbaarheid in leerdervervoer te herstel. Dit volg na die dood van 14 leerders in ‘n skoolvervoerongeluk in Vanderbijlpark, Gauteng, verlede week. Makaneta is diep ontsteld oor die groeiende aantal leerdervervoervoorvalle wat reg oor Suid-Afrika aangemeld word:
Nuus uit die buiteland:
# Wydverspreide swaar sneeu en reën in Amerika het gelei tot die dood van minstens elf mense. Die sterftes is in New York, Louisiana, Austin en Kansas aangeteken. Sewentien state en die distrik Columbia het noodsituasies verklaar, met meer as 900-duisend mense sonder elektrisiteit. Meer as 17-duisend vlugte is weens die storm gekanselleer en klasse in groot skole is gestaak of het oorgeskakel na afstandsonderrig. Die Weerdiens se waarskuwings oor die uiterste koue weer raak bykans 90-miljoen mense.
# Amerikaanse voetbal: Die Seattle Seahawks het die Los Angeles Rams in die NFC-kampioenskapswedstryd met 31-27 verslaan en hul vierde Super Bowl-verskyning bespreek. Jaxon Smith-Njigba van Seahawks het geskitter met tien vangskote en ‘n druk, terwyl quarterback Sam Darnold die bal drie keer gedruk het. Intussen het die Patriots hul plek in hul 12de Super Bowl bespreek na hul sege van 10-7 oor die Denver Broncos. Vanjaar se eindstryd op 8 Februarie is ʼn herhaling van dié in 2015, toe die Patriots die Seahawks verslaan het.
# En geldsake: Die goudprys het vanoggend tot ‘n rekordhoogtepunt van meer as vyf-duisend-dollar per fynons gestyg, namate beleggers in veilige hawe-bates belê te midde van toenemende geopolitieke onsekerheid. Goud het tot vyf-duisend-en-89-dollar per fynons gestyg op onmiddellike verhandeling. Kenners van plaaslike ondernemings soos Ninety One, Knox en Rand Swiss beskou die styging as positief vir Suid-Afrika se ekonomie sowel as sy goudmyne en voorspel pryse kan later vanjaar van die bestaande hoogtepunt tot meer as ses-duisend-dollar per ons styg.
Die rand verhandel intussen teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-661-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-93-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….