Nuus 13:00
BULLETIN 25 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump en die Demokrate verskerp hul standpunte na nog ‘n skietery in Minneapolis
# Die organisasie Young Intelligent Minds of South Africa kritiseer die regering se reaksie op nasionale rampe
# En, die Internasionale Krieketraad onttrek Bangladesj aan die Mans T20-Wêreldbeker
# Slegs ure nadat federale agente ‘n 37-jarige man in Minneapolis doodgeskiet het, het amptenare van die Trump-administrasie die slagoffer ‘n “vermeende sluipmoordenaar” genoem, en Demokrate blameer dat hulle die kant van “terroriste” kies. Demokrate het intussen weereens gevra dat amptenare in Minnesota die skietery moet ondersoek. Hulle beskryf die president se immigrasie-optredes as “‘n veldtog van georganiseerde barbaarsheid”. Die Withuis en Demokrate het in reaksie op Saterdag se voorval sy vorige retoriek herhaal. Trump het in ‘n plasing op Truth Social die slagoffer as ‘n “gewapende man” beskryf en beweer Minnesota-Demokrate probeer die voorval toesmeer.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die befondsing van sommige nie-presterende munisipaliteite is nie gestaak nie om ‘n algehele ineenstorting van dienslewering te vermy. Hlabisa sê teen Desember 2025 was daar 220 munisipaliteite wat voorwaardelike munisipale infrastruktuurtoelaes ontvang het. Hy sê hiervan het 174 toekennings onder 100-miljoen-rand ontvang, terwyl 46 toekennings bo 100-miljoen-rand ontvang het. Hy sê die provinsies met die hoogste persentasie onder die drempel is die Noord-Kaap met 28-persent en die Vrystaat met 32-persent.
# Die organisasie Young Intelligent Minds of South Africa is diep bekommerd oor die regering se reaksie in gebiede in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo wat as nasionale rampgebiede verklaar is. Die stigter van die beweging, Jeffrey Mabunda, sê hulle is verstom dat ministers die gebiede besoek sonder enige middele om onmiddellike verligting te bring aan mense wat deur die ramp geraak word. Hy sê vloedslagoffers van twee jaar gelede in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het steeds ‘n dringende behoefte aan huise:
# Die Forum for South Africa het ernstige kommer uitgespreek oor die langdurige vertragings in die voorvonnisopleggingsproses van die EFF-leier Julius Malema se geweersaak. Die Oos-Londense Landdroshof in die Oos-Kaap het voorvonnisoplegging tot April uitgestel. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê herhaalde uitstel plaas ‘n onnodige las op belastingbetalers en laat ernstige vrae ontstaan oor die doeltreffendheid en billikheid van die regstelsel:
# Die Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake in Limpopo vra gemeenskappe weer om veilig te bly en nie te swem of onnodige te reis wanneer dit reën nie, en nie vol rivierstrome oor te steek nie. Dit volg nadat minstens sewe mense verdrink het. Onder die slagoffers is twee sewe-jarige seuns en een van 16 wat oor die naweek in die nedersetting Marulaneng en Luckau dood is. Die departement se woordvoerder Tsakani Baloyi sê twee liggame is gevind:
# En krieket: Die Internasionale Krieketraad het Bangladesj aan die 2026 Mans T20-Wêreldbeker onttrek nadat hulle geweier het om weens voortdurende veiligheids- en politieke kommer wedstryde in mede-gasheer Indië te speel. Die Bangladesj Krieketraad wou eerder in Sri Lanka speel, maar die IKR het geweier omdat geen “geloofwaardige of verifieerbare veiligheidsbedreiging” gevind nie. Die BKR het ‘n 24-uur-sperdatum gemis het om hul deelname te bevestig, met die IKR wat Bangladesj toe met Skotland in Groep C vervang het. Die BKR kan nou groot finansiële boetes verwag, waaronder ‘n moontlike 32-miljoen-rand boete, en die verlies van tot 432-miljoen-rand in toernooi-inkomste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….