Nuus 13:00
BULLETIN 20 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ses skole is geraak deur die botsing in Vanderbijlpark
# Spanje kondig drie dae van nasionale rou af na Sondag se dodelike treinongeluk
# En krieket: Twyfel oor Donovan Ferreira vir die T20-Wêreldbekertoernooi ná sy besering in die SA20
# Die Gautengse Onderwysdepartement het bevestig ses skole is geraak deur gister se noodlottige ongeluk in Vanderbijlpark waarin 12 leerders dood is, met een kind wat nog nie identifiseer is nie. Drie beseerde leerders is in die hospitaal. Woordvoerder Steve Mabona sê psigo-maatskaplike ondersteuningspanne is ontplooi na die betrokke skole en gesinne, en die LUR, Matome Chiloane, besoek vandag die gesinne:
Nege leerders is intussen beseer toe die bestuurder van ‘n sewesitplek-voertuig wat leerders vervoer, beheer verloor en dit teen ‘n boom gebots het in Sarniaweg in Pinetown, KwaZulu-Natal. Die voertuig het leerders ná skool huis toe geneem. Nooddienste was op die toneel en het na die kinders omgesien voor hulle hospitaal toe geneem is. Die polisie ondersoek tans die oorsaak van die botsing.
# Die Stad Johannesburg bevestig onlangse klagtes oor swaelreuke is waarskynlik te wyte aan oorgrens-lugbesoedeling. Inwoners van Sandton, Randburg, Roodepoort en Fourways het ‘n sterk reuk aangemeld. Woordvoerder Nthatisi Modingoane sê ‘n plaaslike bron is reeds uitgesluit. Hy sê weerstoestande het moontlik besoedeling vanaf nywerheidsgebiede in Mpumalanga veroorsaak, en kwesbare inwoners word aangeraai om binne te bly en simptome dop te hou:
Nuus uit die buiteland:
# Die Spaanse eerste minister, Pedro Sanchez, het van vandag drie dae van nasionale rou verklaar ná Sondag se treinongeluk in Andalusië wat minstens 40 lewens geëis het. Hy het die aankondiging gedoen tydens ‘n besoek aan die ramptoneel in Adamuz, 360-kilometer van Madrid. Sanchez het sy reis na die Wêreld-ekonomiese Forum in Davos, Switserland, afgestel om die toneel te besoek. Data van Eurostat wys die dodetal is onder die 20 hoogstes in treinrampe in Europa die afgelope 80-jaar en die hoogste in Spanje sedert 2013.
# Krieket: Die veelsydige Donovan Ferreira se beskikbaarheid in die T20-Wêreldbekertoernooi word betwyfel nadat hy blykbaar Saterdag sy skouer gebreek het terwyl hy vir Joburg Super Kings gespeel het in ‘n SA20-wedstryd teen Pretoria Capitals. Hy het die kapteinskap oorgeneem nadat die voormalige Protea-kaptein Faf du Plessis sy duim beseer het, wat hom uit die res van die kompetisie hou. Ferreira se SA20 is ook verby. Die Proteas is reeds bekommerd oor die fiksheid van Tony de Zorzi. Die Wêreldbekertoernooi begin op 7 Februarie in Indië en Sri Lanka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-733-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….