Nuus 13:00
BULLETIN 17 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gaan die polisie se tugbevindings oor Phala Phala in die hof betwis
# Minister Kubayi gaan president Ramaphosa vra om Andrea Johnson te skors
# En motorsport: Antonelli spring eerste weg in België
# ActionSA het sy regspan opdrag gegee om stappe te doen in die Pretoriase Hooggeregshof. Die party versoek die hof om die polisie se tugbevindings van Wally Rhoode en Hennie Rekhoto te hersien en tersyde te stel. Dit spruit voort uit hul optrede tydens die ondersoek na die Phala Phala-inbraak. ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, sê nadat inligting verkry deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting noukeurig ontleed is, is daar ernstige vrae oor die redelikheid van die tugproses:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê sy gaan president Cyril Ramaphosa vra om die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, te skors. Dit volg na getuies ernstige bewerings gemaak het oor die gedrag van IDAC-amptenare en hulle hoof. Johnson sal Dinsdag voor die Madlanga-kommissie verskyn. Kubayi het aan SABC News gesê die ministerie sal nie inmeng met die werk van die Madlanga-kommissie nie en sal enige ingrypings aankondig wanneer nodig:
# ‘n Gesamentlike vergadering van vier Parlementêre oorsigkomitees het die Nasionale Tesourie en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake versoek om dienslewering te beskerm, veral vir armlastiges, te midde van regstellende pogings in swak presterende munisipaliteite. Dit volg na Tesourie se stap om die oordrag van fondse van 13,5-miljard-rand na 69 nie-nakomingsmunisipaliteite tydelik terug te hou. Die voorsitter van die staande komitee oor Finansies, Mkhacani Maswanganyi, sê hoewel dit nodig is om op te tree teen volgehoue finansiële wangedrag en nie-nakoming, moet nasionale en provinsiale regerings hul ondersteunings- en ingrypingsverantwoordelikhede nakom soos bepaal deur artikel 154 van die Grondwet.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta is bekommerd oor berigte dat meer as vierduisend studente steeds wag vir finale befondsingsbesluite deur die Nasionale Studentehulpskema, maande nadat die akademiese jaar begin het. Hy sê daar kan geen regverdiging wees vir administratiewe vertragings wat studente in langdurige onsekerheid laat en hul onderwys in gevaar stel nie. Makaneta sê die onthulling dat sommige studente tot vyf maande lank gewag het vir hul befondsing om opgelos te word, is onaanvaarbaar:
# En ons sluit af met sportnuus:
# Sokker: Die Mexikaanse president Claudia Sheinbaum sê sy sal later vandag die Wêreldbeker-eindstryd saam met die Kanadese premier Mark Carney bywoon, op uitnodiging van president Donald Trump. Sy sê dit is belangrik dat die gasheerlande betrokke is, as ‘n teken van die sterk koördinering en samewerking tussen hulle. Sheinbaum het vroeër gesê sy sal geen wedstryd bywoon nie in solidariteit met gewone Mexikane wat nie kaartjies kan bekostig nie. Die teenwoordigheid van Sheinbaum en Carney kom terwyl Mexiko en Kanada Trump probeer oortuig om die trilaterale Noord-Amerikaanse handelsooreenkoms te verleng.
# En motorsport: Kimi Antonelli mik daarna om vandag vinnig weg te spring en pret te hê terwyl hy poog om sy sesde voorste wegspringplek van die seisoen in ‘n oorwinning om te skakel by die Belgiese Grand Prix. Die 19-jarige Italianer het Red Bull se Max Verstappen met drie tiendes van ‘n sekonde geklop. Wêreldkampioen Lando Norris van McLaren het derde gekwalifiseer, maar begin 13de nadat hy met 10 wegspringplekke gestraf is. George Russell in die tweede Mercedes en Ferrari se Charles Leclerc deel die tweede ry, met die sewemalige kampioen Lewis Hamilton en Oscar Piastri in die tweede McLaren agter hulle.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….