Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society beskuldig die polisie van medepligtigheid aan die onwettige wapenhandel
# Beurtkrag word opgeskort tot vier-uur vanmiddag
# En, sokker: Palestina is die eerste keer in die uitkloprondes van die Asiese Bekertoernooi
# Action Society beweer die Suid-Afrikaanse Polisiediens is die grootste verskaffer van onwettige vuurwapens. Die beskuldiging volg na die inhegtenisneming van ‘n polisielid van Mitchells Plai in Kaapstad, nadat 15 vuurwapens in November verlede jaar uit die pakkamer weggeraak het. Volgens die organisasie kon die polisie tussen 2005 en 2017 nie rekenskap gee van 26-duisend vuurwapens wat aan lede uitgereik is nie. Action Society se direkteur van Gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron, sê die polisie voorsien wapens aan groot misdaadnetwerke, wat bydra tot die moord op onskuldige landsburgers:
# Eskom het aangekondig hy het beurtkrag tot vier-uur vanmiddag opgeskort. Dit volg weens voldoende beskikbare opwekkingsvermoë. Die kragvoorsiener herinner verbruikers beurtkrag word ingestel as ‘n laaste uitweg om die bestendigheid van die kragstelsel te handhaaf. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê fase twee-beurtkrag sal ná vier terugkeer:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het Suid-Afrikaners versoek om idees tot die begroting by te dra. Hy streef daarna om ekonomiese groei te balanseer en die kwesbares te help te midde van beperkings met hulpbronne. Insette word versoek oor deurslaggewende kwessies soos munisipale finansies, bestedings-voorkeure, hoe begrotingstekorte aangepak moet word, bestendigmaking van staatsbeheerde instellings se finansies en hoe om die energiekrisis aan te pak. Die nasionale skuld staan op meer as 4,8-duisend-miljard-rand en kenners beklemtoon die noodsaaklikheid van fiskale verantwoordelikheid, veral tydens ‘n verkiesingsjaar.
# Sokker: Palestina is die eerste keer deur na die uitkloprondes van die Asiese Bekertoernooi. Hulle het Hong Kong met 3-0 verslaan vir hulle eerste oorwinning in die kompetisie. Die Verenigde Arabiese Emirate is tweede in Groep C, ten spyte van ʼn nederlaag van 2-1 teen die groepwenners, Iran. Die geskiedkundige oorwinning in Doha, Katar, volg nadat die Palestynse spelers en personeel geliefdes verloor het in die konflik tussen Israel en Hamas. Hulle het voor die toernooi verklaar hulle hoop om ʼn mate van vertroosting te bring vir almal wat tuis swaar kry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-952-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-98-sent per vat.
# Ten slotte: Vier nuwe groepe keiserpikkewyne is deur middel van satellietbeelde in Antarktika geïdentifiseer. Daar is dus altesaam 66 bekende broeiplekke op die Wit Vasteland. Met die ontdekking glo wetenskaplikes hulle weet nou waar die oorblywende broeipare in die wêreld hulle bevind. Volgens die BBC is dit belangrike inligting vir natuurbewaarders wat die spesie dophou wat weens klimaatverandering onder toenemende druk verkeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….