Nuus 13:00
BULLETIN 16 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma sê die hofbeslissing dat hy 28,9-miljoen-rand se staatsbefondse regskoste moet terugbetaal is voortydig
# Weermaghelikopters is ontplooi te midde van die oorstromings in Limpopo
# En Kanada se eerste minister verwelkom ‘n nuwe vennootskap met China
# Oudpresident Jacob Zuma sê dis voortydig dat die hof hom dwing om die 28,9-miljoen-rand terug te betaal wat die staat vir sy regskoste betaal het. Hy vra toestemming van die Appèlhof om te appelleer teen die Gautengse Hooggeregshof se beslissing dat hy die staat moet terugbetaal. Zuma dring daarop aan dat hy slegs gelas kan word om te betaal indien en wanneer hy skuldig bevind word in die korrupsiesaak wat met die wapentransaksie verband hou en daar bevind is dat hy in sy eie belang opgetree het.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het helikopters ontplooi om mense te help ontruim wat deur erge oorstromings in Limpopo gestrand is. ‘n Woordvoerder, Selinah Rawlins, sê lede van Eskader 17 en 19 het op ʼn noodoproep gereageer en gesinne naby Giyani en Phalaborwa gered. Slagoffers is van huise se dakke en uit bome langs die Olifantsrivier gered, en beseerde inwoners is na die Maphutha-hospitaal vervoer. Rawlins sê reddingsoperasies het oornag voortgeduur.
# Die GOOD-party het ‘n mosie ingedien ingevolge Artikel 19 van die George Munisipaliteit se Ordereëls waarin hy die hernoeming van PW Botha-boulevard versoek. Die mosie voer aan die huidige naam is strydig met die Grondwet se kernwaardes van menswaardigheid, gelykheid en nie-rassigheid. GOOD se woordvoerder, Chantelle Kyd, sê Botha se nalatenskap word gedefinieer deur onderdrukking en die ontkenning van basiese menseregte:
Nuus uit die buiteland:
# Kanada se premier, Mark Carney, het ‘n hernude vennootskap met China geprys terwyl hy terselfdertyd pogings aanwend om handelsbande weg van Amerika uit te brei. Die twee lande was jare lank in diplomatieke geskille vasgevang na vergeldings-inhegtenisnemings van mekaar se burgers en ‘n reeks handelsgeskille. China is Kanada se tweede grootste handelsvennoot. Carney sê die vennootskap berei die twee nasies goed voor vir die nuwe wêreldorde:
# Rugby: Die Engelse stut Asher Opoku-Fordjour is uit die Sesnasies-reeks nadat hy ‘n skouerbesering opgedoen het tydens oefening vir sy klub, Sale Sharks. Die 21-jarige het ses toetse op sy kerfstok, maar het weens ‘n elmboogprobleem einde November laas gespeel. Hy sal moontlik deur Afolabi Fasogbon of Trevor Davison van Gloucester vervang word. Engeland se Sesnasies-veldtog begin op 7 Februarie teen Wallis en eindig op 14 Maart in Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-650-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-600-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….