Nuus 13:00
BULLETIN 13 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Menslike Nedersettings beskryf ‘n verklaring oor reiskoste as misleidend
# Die Parlement vra insette oor Wetsontwerpe op Verdediging en Militêre Dissipline
# En krieket: ‘n Veelsydige Indiese speler kan die Wêreldbeker misloop ná fiksheidsprobleme teen Nieu-Seeland
# Die Ministerie van Menslike Nedersettings sê ActionSA se bewerings dat die departement 32,98-miljoen-rand aan buitelandse reise bestee het, is misleidend. Die party sê die ministers in die regering van nasionale eenheid het in die eerste 18 maande in die amp minstens 45-miljoen-rand aan reis- en verblyfkoste bestee. Die departement se woordvoerder, Tsekiso Machike, sê minister Thembi Simelane se reiskoste is in ooreenstemming met die Nasionale Tesourie se voorskrifte vir kostebeheer-maatreëls:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Verdediging en Militêre Veterane nooi die publiek om kommentaar te lewer oor twee wetsontwerpe. Die Wysigingswetsontwerp op Verdediging stel voor dat militêre regters van ondersoekrade uitgesluit word, terwyl die Wysigingswetsontwerp op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline beoog om ‘n Militêre Regterlike Raadgewense Komitee te stig en reëls vas te stel vir die aanstelling en verwydering van senior militêre regters. Skriftelike voorleggings moet teen die einde van hierdie maand ingedien word.
# SANParke sê hy werk nou saam met munisipale owerhede en brandbestuurvennote om te reageer op die talle brande in die Kaapse streek, veral in gebiede by Agulhas en die Tafelberg Nasionale Park. Die brande in die Agulhas Nasionale Park en by Pearly Beach is onder beheer terwyl die een by Stanford steeds voortwoed. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê geen sterftes of skade aan eiendom is aangemeld nie:
Die Overstrand-munisipaliteit in die Wes-Kaap sê intussen die brandlyn bokant Byenes-krans het hoër op teen die berg weer opgevlam. Munisipale bestuurder Dean O’Neill sê ‘n verandering in windrigting word verwag, wat groot druk sal plaas op die bestaande inperkings-brandlyne. Hy sê opvlamming bly ʼn groot moontlikheid:
# Krieket: Die veelsydige Indiese speler Washington Sundar is ‘n twyfelagtige insluiting vir die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka nadat hy gedwing is om uit die oorblywende twee eendagwedstryde teen Nieu-Seeland te onttrek. Hy het pynlike ribbes ervaar tydens Sondag se openingswedstryd, en die groep sal deskundige menings oor sy fiksheid inwin. Sundar word vervang deur Ayush Badoni vir die tweede eendagwedstryd, wat môre in Rajkot plaasvind, met die laaste wedstryd Sondag in Indore. Die Wêreldbekertoernooi begin op 7 Februarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-268-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-591-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….