Nuus 13:00
BULLETIN 12 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube noem onderwysers argitekte van uitnemendheid
# Minstens tien groot veldbrande is in die Wes-Kaap aangemeld
# En sokker: Die Suid-Afrikaanse Meesters- en Legendes-vereniging wil hê Lucas Radebe moet SAFA se volgende president wees
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, prys onderwysers reg oor die land en noem hulle die stille argitekte van uitnemendheid. Gwarube het 2025 se matriekklas in Gauteng gevier en sê onderwysers herken potensiaal voor dit sigbaar is, handhaaf hoë standaarde en weier om moed op te gee met leerders. Sy beklemtoon onderwysers toon toewyding en moed ondanks uitdagings:
Universiteite Suid-Afrika het intussen aangekondig dat openbare universiteite eers voornemende nuwe studente se aansoek-uitslae sal vrystel na vandag se amptelike aankondiging van die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae. Uitvoerende hoof Phethiwe Matutu sê voornemende nuwe studente sal dus aansoekuitslae regstreeks van universiteite ontvang. Sy sê dit verwyder die noodsaak vir studente om instellings met navrae te oorval, of om voortydig op kampusse op te daag. Sy voeg by dat al 26 universiteite die datums en tye aangedui het wanneer studente kan verwag om hul aansoekuitslae te ontvang.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê tien groot veldbrande is die afgelope week reg oor die provinsie aangemeld, waarvan verskeie in bedwang gebring is. Altesaam 45 strukture is beskadig, en ongeveer 90-duisend hektaar het afgebrand. In Mosselbaai is die reuse-veldbrand wat om Aalwyndal, Island View en Vakansieplaas gewoed en gedwonge ontruimings genoodsaak het, ten volle in bedwang gebring. Winde sê niemand is in die brande dood nie, danksy die gesamentlike pogings van inwoners en noodpersoneel.
Intussen sê die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap ‘n veldbrand woed steeds tussen Kleinberg en die Peerplaas-kloof in ‘n ontoeganklike bergagtige gebied. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê die noordelike brandlyn sowel as die die noordwestelike brandlyn, insluitend die Tradouwpas-gebied tussen Swellendam en Barrydale, bly aktief. Hy sê brandbestryders het deurnag gewerk om brandlyne naby kritieke infrastruktuur te blus en die gebiede kry steeds voorkeur:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Meesters- en Legendes-vereniging oorweeg om die voormalige Bafana Bafana-kaptein, Lucas Radebe, te benoem as sy kandidaat as president van SAFA. Danny Jordaan het nog nie bevestig of hy hom vir ‘n vierde termyn beskikbaar gaan stel nie. Radebe het nie in 2018 en 2022 die benoemingslys gehaal nie, want SAFA se grondwet vereis dat kandidate lede van die vereniging se strukture moet wees met tien jaar se streekvlak-ondervinding. Die vereniging sê daar is ‘n groot vraag na voormalige spelers soos Radebe om SAFA te red.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-761-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-596-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….