Nuus 13:00
BULLETIN 11 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan op ‘n amptelike besoek aan die Verenigde Arabiese Emirate
# Thoko Didiza erken daar is kommer oor plaaslike regeringsvermoëns voor die verkiesing
# En, SADOU ondersoek die moontlikheid om lede toe te laat om by mediese fondse van hul keuse aan te sluit
# President Cyril Ramaphosa sal van môre af op ‘n amptelike besoek aan die Verenigde Arabiese Emirate wees om deel te neem aan die Abu Dhabi Volhoubaarheidsweek. Die jaarlikse geleentheid, wat tot Donderdag duur, word aangebied onder die tema “Nexus of Next: All Systems Go“. Die beraad bring staatshoofde en regeringshoofde, asook leiers uit die privaat sektor en die burgerlike samelewing, bymekaar. Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya sê Suid-Afrika geniet noue samewerking met die Emirate:
# Die ANC-parlementslid en speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die ANC erken daar is kommer oor dienslewering, werkloosheid en plaaslike regeringsvermoë voor die plaaslike regeringsverkiesing. Didiza het gister tydens die 8 Januarie-feesviering op die Maruleng-stadion in Noordwes gesê die party besin oor sy doel en toekomstige rigting. Sy het beklemtoon die party belowe vernuwing, ekonomiese transformasie en beter bestuur om lewens te verbeter:
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sê hulle gaan moontlikhede ondersoek om lede toe te laat om by mediese fondse van hul keuse aan te sluit. Die vakbond is gekant teen die verhoging van 4,5-persent wat volgende maand in werking tree. Die vakbondwoordvoerder, Nomusa Cembi, sê hulle het nooit die resolusie van die Staatsdiens Koördinerende Bedingingsraad in 2006 onderteken nie. Dit het gelei het tot die stigting van die Staatsamptenare Mediese Skema as ‘n geslote mediese skema vir staatsamptenare en hul afhanklikes:
# Die Onderwysdepartement van die Wes-Kaap is gereed vir die begin van die 2026-skooljaar. Onderwysers sal môre terugkeer, met leerders wat Woensdag begin. Die departement fokus daarop om ‘n gladde begin vir die kwartaal te verseker en moedig ouers aan om te verseker dat hul kinders voorbereid is vir die eerste skooldag. Bronagh Hammond van die departement sê skole en personeel is gereed om leerders terug te verwelkom:
# Die Afrika-ontwikkelingsbank het die OPEC-fonds vir Internasionale Ontwikkeling en die Handels- en Ontwikkelingsbankgroep verwelkom as vennote by die Alliansie vir Spesiale Agro-industriële Verwerkingsones. Dit is om pogings van verskeie vennootskappe te versterk om landbou-industrialisering regoor Afrika te versnel. Admassu Tadesse, president en besturende direkteur van die TDB-groep, sê tot dusver het die Afrika-ontwikkelingsbank ongeveer 15,3-miljard-rand bewillig om meer as 24 spesiale landbou-industriële verwerkingsones in elf lande te ontwikkel. Hy sê die instelling sien uit na die verdieping van die samewerking met alliansievennote om bankbare landbou-industriële geleenthede te skep.
# En sokker: Sewemalige kampioene Egipte is die laaste span om deur te gaan na die laaste vier van die Afrika-nasiebeker nadat hulle die verdedigende kampioene, die Ivoorkus, gisteraand met 3-2 in ‘n opwindende kragmeting uitgeskakel en daarmee die land se bewind beëindig het. Die gasheerland Marokko sal teen die sterbelaaide Nigerië speel, terwyl Senegal, as die eerste span om na die halfeindronde deur te dring, nou teen Egipte te staan sal kom. Die halfeindronde-wedstryde word op Woensdag 14 Januarie gespeel, met die eindstryd volgende Sondag in Rabat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….